Part 2
Die sonsondergang was lieflik, so rooi, dat dit gelyk het of daar bloed uit die hemel tap. Voor ons het die weer mooi gelyk, maar agter ons was ’n groot, swart wolk, waarin elke nou en dan die bliksemstrale gespeel het. En dit was regtig stormagtig. Dit was so donker, dat ons niks kon sien nie. Ek het op dek tweemaal geval, daar dit baie moeilik is om jou weg te vind weens al die goed wat daar lê—vaatjies, platboom-skuite, moterbote en die Hobbs-kano’s, behalwe nog ’n hele boel hout en toue.
Die wind het gewaai so al wat hy kon, en die reën het in strome geval. Art en ek het ons oliejasse en stewels aangetrek en aan boord gegaan om die boligte wat verskriklik gelek het, met iets te bedek. Dit lyk of boligte nooit in goeie orde is nie. Ons het seildoeke en geteerde bokseile oor hulle getrek. Die water het oor die boeg geslaan.
Maar die Morrissey het hom skynbaar aan niks gesteur nie, en ek dink kapt. Bob en Will het op ’n manier daarvan gehou. Kapt. Bob is ’n wonderbare man en is baie gaaf teenoor my. Dit lyk of hy daarvan hou dat ek met die toue werk en soveel as moontlik omtrent die skip uitvind.
Die weer het een- of tweekeer baie naby ons geslaan, en baiemaal was die lug helder verlig deur die verblindende weerligstrale wat woes heen-en-weer geskiet het.
Op die negen-en-twintigste het ons die eerste ysberge gesien, en na die middag het ons omtrent tien verbygeseil, waarvan vier regtig groot was. Een van hulle was omtrent vyftig voet hoog en honderd voet lank. Omtrent een agste van ’n ysberg is bo die water en sewe-agstes onder die water. Julle kan vir julle dus voorstel hoe groot die een wat ek beskryf het in werklikheid was; later het ons natuurlik ysberge gesien wat nog groter was. Die kleiner berge en blokke drywende ys word by ons „growlers” genoem.
Net ’n week gelede het ons berig gekry dat die Straat van Belle Isle van Labrador tot Newfoundland toegevries is, maar die suidewind wat die laaste paar dae gewaai het, het die straat blykbaar skoongevee en ons het sonder moeite deurgegaan. In die straat het ons twee stoombote gesien wat waarskynlik, net soos ons, vir die eerste keer in die seisoen deurgeseil het.
Nadat ons die straat verlaat het, het ons heeldag verspreide ysberge gesien, tot omtrent vieruur, toe ons vir die eerste keer regtig ys raakgeloop het. Daar was ’n menigte van blokke in een plaat wat omtrent drie myl lank en een myl breed was. Daar het honderde van berge omtrent so groot soos ’n ordentlike huis rondgedryf. Ek het saam met Ed Manley in die kraaines geklim en afgekyk op die pragtige gesig. Die ys was bo blou en onder ’n mooi ligte groen. As ’n mens bo in die kraaines is, kan mens die voetstuk van die ysberg ver onder sien.
In die oggend was dit taamlik mistige weer en ons het baie naby party ysberge gekom. Een slag, toe ek op dek was, het ons minder as honderd tree van ons ’n berg gesien wat gelyk het soos ’n klein hotel, omtrent honderd-en-twintig voet hoog en driehonderd voet lank.
Twee dae lank was ons so-te-sê die hele tyd tussen ys. Kapt. Bob sê dit is die ysveld van Labrador. Een oggend het ek wakkergeskrik van ’n skok deurdat ons teen ’n stuk ys gestamp het. Die boeg van die skip word uit die water gelig en kom dan met sy hele geweld op die ys neer en verpletter dit, of anders ry ons feitlik ’n end daarop totdat dit losbreek. In alle geval is dit lekker om te weet dat die Morrissey van goeie soliede eikehout gebou is, en dat daar bowendien nog ’n valse kiel van groenhout [3] buite-om is om hom ’n bietjie teen die ys te beveilig.
Sover as ons kon sien was daar die hele dag ys, en ’n bietjie mis. Ons koers het heen en weer gekronkel, in en uit en om die ys. Dit lyk snaaks om skielik op soveel ys af te kom, terwyl daar nou-die-dag glad niks was nie. Die water is stil waar daar baie ys is, dus het ons goed gevorder, ten spyte van al die kronkelinge wat ons moes maak.
Een aand het ons heeltemal ’n gesellige aand gehad om die tyd te verdryf. Met ons klein Pathex-toestel het ons lewende beelde gemaak, dan was daar lekkers, en ons „foggey-dew”-orkes het tussenin gespeel en Art Young het solo’s gespeel op sy snaakse klein viool wat hy saam na Afrika gehad het en orals op sy jagtogte. „Nanook van die Noorde” was die naam van die film, en Bob Flaherty wat dit geneem het is ’n groot vriend van ons en het my baie vertel van die Eskimo’s in die streek van Hudson-Baai. Tussen hakies, Pa sê ons sal miskien aanstaande somer soontoe gaan.
By tye het die son oordags lekker geskyn en Pa en mnr. Kellerman het ’n klomp lewende beelde en portrette geneem. Mnr. Kellerman klim op die boegspriet en vandaar op die staglyne en neem dan lewende beelde van die voorstewe as hy deur die ys sny.
Dit is baie boeiend om te sien hoe die bemanning die skip deur die ys bring. Een man is in die kraaines op die fokmas. Hy roept uit waarheen om te gaan en die man aan die wiel herhaal sy woorde om te verhinder dat daar ’n fout gemaak word.
Jy hoor die man bo skreeu, „Stuurbo-ord!”
En die stuurman antwoord aan die wiel, „Stuurbo-ord!”
Dan swaai die skip om na bakboord; want as die helmstok deur die wiel na die een kant getrek word, dan draai die skip na die ander kant.
Dit was vir my heeltemal ’n interessante eerste Julie. Die temperatuur was omtrent 34 grade, net twee grade bo die vriespunt. Gewoonlik swem ek tuis in die tyd van die jaar!
Een aand het professor Hobbs van die Uniwersiteit van Michigan ’n lesing gehou oor die groot gletserveld van Groenland. Hy glo dat baie van die storms op die Atlantiese Oseaan hulle oorsprong in Groenland het. Soos julle seker weet, is daardie land feitlik die ene ys. Daar is al langs die kus, veral in die suide, net ’n smal strook land wat nie deur die gletserveld bedek is nie. Die gedagte is dat dit miskien ’n myl of meer dik is, maar niemand weet presies wat die afmetings is nie. Die gletsers is tonge van die gletserveld wat as-’t-ware na die oseaan uitlek en dan afbreek as ysberge. In die deel van Groenland waarheen ons gaan bo in die noorde, is daar omtrent driehonderd mense. Die groot gletserveld van Groenland en die Suidpool-streek word beskou as die koudste dele van die wêreld, kouer selfs as die Noordpool-streek.
Toe Peary oor die noordelike gedeelte van Groenland gereis het, het hy gevind dat die wind in sy gesig waai as hy op ’n ysheuwel klim en as hy afdraand gaan, dan waai die wind op sy rug. M. a. w. daar was altyd ’n wind wat van die ys afgekom het. Professor Hobbs en sy geselskap vir wie ons na Holsteinsborg neem, sal ’n studie maak van hierdie winde, die beweginge van die ys en ander dinge.
Een slag, omtrent ons twede dag tussen die ys, terwyl ons in en uit ons vaarweg kronkel, sien ons iets swarts in die water. Ek skreeu vir die ander om na die seehond te kom kyk. Dit was die eerste noordelike seehond wat ek buitekant ’n dieretuin of sirkus gesien het. Ek het hom te siene gekry deurdat ek op die punt van die boegspriet was met Robert Peary, ons eerste masjinis, met wie ek baie rondspeel. Hy is ’n seun van admiraal Peary wat die Noordpool ontdek het. Dit is sy eerste reis na die noorde, en ek en hy is groot maats.
Julle het seker al gehoor van Eric die Rooie. Hy was ’n Noor wat ’n skip uitgerus het en in 983 van Noorweë geseil het na ’n land wat deur ’n seker Gunbjorn ten weste van Ysland ontdek is. Toe hy die land bereik het, wonder hy hoe hy mense sal kan beweeg om daar te gaan woon, dus toe noem hy dit Groenland. Dit was die eintlike begin van die teenswoordige Groenland. Daarna het hulle vee na die suidelike gedeelte gebring en daarmee geboer.
Groenland is van suid na noord omtrent vyftienhonderd myl lank en op sy wydste plek omtrent seshonderd myl wyd.
Ons sal Knud Rasmussen by Disko-Eiland oplaai waar, soos ek gelees het, baie fossiele gevind word. Ek hoop om ’n paar vir my versameling te kry. Tuis het ek ’n kamertjie wat ons my museum noem, en daarin versamel ek ’n hele klomp goed wat werklik interessant is. Daar het ek alreeds ’n klomp goed wat ek van die ekspediesie met die Arcturus saamgebring het, en ander deur ontdekkingsreisigers wat ons huis besoek het, aan my gegee. Een van my grootste skatte is ’n klompie stukke van die dop van ’n dinosour-eier wat ek van Roy Capman Andrews gekry het, die eerste man wat die soort eiers in Asië gevind het. Hulle is tienmiljoen jare oud.
HOOFSTUK III
ONS BEREIK GROENLAND
Ons het op 5 Julie Groenland vir die eerste keer te sien gekry. Dit was ’n pragtige gesig met die hoë sneeubedekte berge wat uit die mis uitgesteek het. Die hele agtermiddag het ons die kus in ’n noordelike rigting gevolg, maar ’n taamlike end van die land. Van die Straat van Belle Isle af het ons ver van die kus gehou; as gevolg van die mis, die seestrome en die ys waardeur ons moes vleg, was dit dus moeilik om vas te stel presies waar ons was.
Die volgende oggend was kapt. Bartlett besorg, want ’n sterk wind het gewaai en ons het nie geweet of ons nie miskien ons hawe verbygeseil het nie. Ons wou Holsteinsborg bereik. Weens die mis was ons nie in staat om ons berekeninge te maak nie.
Ons het gedurig met die verkykers uitgekyk en omtrent nege-uur gewaar ons iets soos ’n groot wit vlag wat naby ’n paar klein hutte op die kus waai. Waarskynlik was dit die droë vel van ’n seeleeu of soiets. In elk geval het die Groenlanders vir ons gesein, en ons het stilgehou, want ons was ernstig om iemand aan boord te kry en uit te vind presies waar ons ons bevind het.
Ons laat toe ’n klein boot neer, en Pa, Peary, die masjinis, die stuurman en Carl gaan aan land en bring die eerste man na die skip. Drie kajaks het hulle tegemoet gekom. Carl praat toe Noors met hom en vra waar Holsteinsborg is. Maar hy kon nie verstaan nie, dus wys ons hom die kaart en noem die plek. Toe verstaan hy en beduie deur gebare dat hy ons die pad soontoe sal wys.
Dit was groot pret om te sien hoe hy in sy klein kajak op- en afgaan sonder om om te slaan. ’n Kajak is ’n Eskimo-boot, ’n soort kano wat gemaak is van seehond-vel wat oor ’n raamwerk van dun hout gespan is. Dit is bo-op ook toe gemaak, behalwe dat ’n gat gelaat is waar ’n man inklim en sy voete onder die dek insteek waar dit maar omtrent ses duim diep is. Daar is ook ’n vel wat oor die opening pas en wat die man om sy lyf vasmaak om die water heeltemal uit te hou. Die roeispaan is van een stuk hout gemaak met ’n blad aan elke ent. Dit word in die middel vasgehou en eers word die een ent in die water gesteek en dan die ander. In Suid-Groenland is daar gewoonlik been aan die ente, van die roeispaan, terwy die handvatsel glad gemaak is. Die noordelike Eskimo’s het gewoonlik g’n been aan die roeispaan nie, en buitendien is daar vir elke hand ’n kerf ingesny.
Harry Laven het prente van noordelike diere geteken en die Eskimo het vir ons hulle name in sy taal gesê.
Omtrent vier-uur het ons in Holsteinsborg aangekom. Dit was ’n baie goeie klein hawe in die monding van ’n fjord. ’n Fjord is ’n lang smal baai of sond gewoonlik met steil kranse aan weerskante. Pa sê die landskap van Groenland is baie soos die van Noorweë.
Die huise is algar verskillend van kleur, en maak ’n baie bont vertoning. Bo-op die heuwel het ’n klein rooi kerkie gestaan en aan die voet was die dorpie, meestal hout-huisies met sooie rondom gepak om die koue uit te hou. ’n Paar van die sooi-huisies het van voor tonnels, soos die ighloes in die noorde.
Die plek waar ons geland het, was ’n klein dok met ’n inleg-fabriek aan die een kant en rakke vir die Eskimo’s se kajaks aan die ander kant.
In Holsteinsborg het ek groot pret gehad met handeldryf. Drie van die matrose, Jim, Joe en Ralph, en ek het aan land gegaan met ’n paar ou hemde en ’n ou broek. Ons het omtrent vyftien hutte binnegegaan. Daar was maar vyf-en-twintig hutte in die dorp. Hulle het bestaan uit een kamer met ’n soort van verhoog vir die bed teen die agtermuur. Alles, tot koskook, word in die een kamer gedoen en die hele famielie slaap op een bed. Die huise was baie bedompig en het na velle en honde geruik. Die honde was orals te sien, tot in die tonnels het hulle gelê, sodat mens nouliks kon verbykom.
Daardie aand om nege-uur het ons na ’n fjord, Ikortok genoem, vertrek om professor Hobbs en sy geselskap aan wal te sit. Ons het omtrent veertig myl die binneland ingegaan. Deur drie platboom-skuite aanmekaar vas te bind het ons ’n vlot gemaak om sy goed van die skip te vervoer. Een vrag was ’n bietjie te swaar, sodat die vlot amper gesink het deurdat een van die skuite vol water geloop het.
Terwyl die laaste vrag afgelaai is, het Pa en ek met Carl ’n bietjie gaan vis vang, maar sonder sukses. Ons sien toe aan land ’n voëlnes wat lyk of dit ’n goeie eksemplaar kon wees. Ons probeer om dit te kry, deur teen ’n rots uit te klim, maar kon dit nie bereik nie.
Toe ons in ons motor-bootjie die land verlaat, het ons in vlak water geraak. Die skroef van ons Johnson-motor raak toe die grond met die gevolg dat die motor losruk en oor boord val. Gelukkig kon ons dit weer kry. Ons moes egter die hele pad terug roei, daar die motor vol soutwater geword het en nie wou loop nie. Die hooggety het juis met geweld die fjord opgekom en ons moes vir omtrent vier myl net hard roei. Toe ons ’n stuk strand bereik, trek ons die boot uit die water, en werk aan die motor. Ek vat toe ’n geweer om te sien of ek nie ’n paar voëls kon kry nie wat geskik sou wees om te eet of anders om opgestop te word. Teen die tyd dat ek die ander end van die strand bereik het, het hulle hoop opgegee om die motor droog te kry en weer begin roei. Hulle skreeu toe vir my dat ek maar al langs die kus moes terugstap, daar dit dan makliker sou wees om te roei. Ek het nie veel van die idee gehou nie, maar ek moes òf aanstap, òf daar bly. Ek het ’n paar van die velstewels wat hulle kamiks noem, aangehad, en dit was moeilik om daarmee oor die rotse te loop. Ek was ook bang vir honde, want ons het aan land, nie ver van die ankerplek van die Morrissey, ’n klomp klein hondjies gekry. Nou is ’n teef in die noorde dikwels so kwaai soos ’n wolf as sy kleintjies het. Ek het ’n paar honderd tree af een gesien en het dus agter ’n rots gaan sit en wag dat hy moet verder weggaan.
Toe ek die kus naby die skip bereik het, stuur hulle ’n platboom-skuit om my te haal.
Op die volgende dag het ons in ’n paar dorpies langs die fjord oorgebly. Die Eskimo’s het in bootjies en kajaks gekom om met ons te handel en die Europeane en hulle snaakse skoene te sien. Toe ons hulle vra na visse wat geskik was vir eksemplare, bring hulle ’n seevark te voorskyn.
Daardie agtermiddag het ons ’n groot kolonie van voëls teëgekom. Dit was wonderbaar om te sien. Die hele sy van die rots was oortrek met duisende neste van seemeeue. Dit is ’n soort van klein seemeeu wat in die winter soms sover as New-York afkom. Die voëls het met hulle aanhoudende geskreeu ’n verskriklike lawaai gemaak.
Ons het in die platboom-skuite tot teen die rots geroei en daar ’n klompie voëls geskiet om saam terug te vat en ander om te eet. Ons het ook lewende beelde geneem van die voëls wat al om die rots vlieg. Op ’n afstand het die menigte vlieënde voëls presies soos ’n sneeustorm gelyk.
Toe is ons terug na Holsteinsborg om twee mans terug te bring wat ons daar gekry het. Om drie-uur in die oggend het ons daar aangekom en hulle in ’n boot aan wal gesit in plaas van met die Morrissey in te seil, want ons wou so gou as moontlik aangaan na Disko.
HOOFSTUK IV
LANGS DIE KUS VAN GROENLAND
Op pad na Disko het ons slegte weer getref en ons moes omtrent veertig myl van Holsteinsborg agter ’n klompie eilandjies gaan skuiling soek. Daar was glad g’n mense nie. Ons het ’n paar visse gevang en ’n paar voëls geskiet om saam terug te neem.
Op een eiland het drie verlate sooi-huisies gestaan. Hulle was vol modder, visgrate en bene van seehonde.
Toe ons terugkom van die hutte het ek met twee van my maats, Jim en Ralph, gaan visvang. Ons het in die platboom-skuit ver uitgegaan tot waar die see heeltemal ru was—ek het tenminste so gedink. Ons het ’n paar rotskabeljoue gevang. Jim het ’n groot heilbot tot teen aan die skuit gebring, maar net toe hy hom in die skuit wou trek, gee die vis ’n ruk en raak los.
Een aand toe ’n paar Eskimo’s langs die kus aan boord gekom het, wys ons hulle lewende beelde van Eskimo’s wat ’n walrus harpoeneer, om te sien wat hulle daarvan sou dink. Hierdie prente het ons in die midskeepse kajuit gewys waar ons algar eet en die meeste van ons slaap. Met ons Pathex-toestel het ons die prente op ’n doek gewerp wat Fred van die oliekleedjie van ons tafel gemaak het.
Toe die geharpoeneerde walrus die Eskimojagter wegsleep, het ons gaste geskreeu of gebrom. Dit was baie komieklik. Hulle het al van lewende beelde gehoor, maar hulle nog nooit gesien nie. Na die noordse prente het ons hulle ’n paar van die Suidsee-Eilande gewys. Die Eskimo’s het nog nooit iemand sien swem nie, dus het hulle nie geweet wat om daarvan te dink nie. Toe ’n vriend van ons wat hul taal kon praat hulle vra wat hulle daarvan dink, toe sê hulle net hulle het van algar baie gehou, veral die prent waarop ’n leeu met sy dresseerder speel. Hulle het nog nooit soiets soos ’n leeu gesien nie. Daar is byvoorbeeld, soos ons verstaan, nie ’n enkele kat in die hele Groenland nie.
Dit is baie vermaaklik om die skuite te sien wat jou tegemoet kom, en die Eskimo’s wat so heeltemal anders is as ons en g’n woord Engels kan praat nie, behalwe ’n paar soos „shirt”, „sugar” en „coffee” wat hulle opgetel het. Sulke dinge wil hulle ruil vir stewels, beursies en velle. In die suide kerf hulle sulke dinge soos kajaks, messe en penhouers uit die ivoor van walrus-tande.
Hulle het partykeer baie gawe hoede wat van bont of eiderdons gemaak is. Een man het twee modelle van kajaks met die hele uitrusting, tot die klein rokkie vir die harpoentou en die figuur van ’n man, na my toe gebring. Ek het een daarvan vir my klein museum by die huis gekoop. Daarvoor wou hy ’n ou broek of ’n hoeveelheid twak hê. Selfs die vrouens wil twak hê om te pruim. Ek het ook ’n paar baie mooi beursies gekoop wat van die vinne van seehonde gemaak is en knippies van been het. Dit is moeilik om ’n kleinigheid vir elke vriend by die huis te kry.
Die Eskimo’s is oor die algemeen baie gaaf en eerlik. Die meeste kan akkordion speel, en dit lyk of hulle baie musikaal is, en hulle hou bepaald van dans.
Ons het volop goed aan boord wat vir presente en ruilhandel deug, veral as betaling vir hulp en werk wat gedaan word. Geld beteken hier maar min. Ons voorrade sluit in byle, messe, krale, naalde, twak, pype, lekkers ens. Albei geslagte is lief vir gekleurde doeke, en spieëltjies is altyd welkom.
By een van die dorpe het ons ’n trop honde ’n vrot haai sien vreet. As ’n haai ’n paar dae dood is, word daar skynbaar ammonia in die vleis gevorm. Die honde hou daarvan, en nadat hulle dit gevreet het, lyk dit vir my, word hulle dronk en kan nouliks loop.
Fred Linekiller, die opstopper van diere, is besig om my te wys hoe ’n mens voëls afslag. Dit is ’n interessante werk. Die eerste wat mens moet doen as mens ’n voël geskiet het is om watte in die wonde en die bek van die voël te steek, om te keer dat die bloed nie oor die vere loop nie. Dan word ’n naald deur die neusgate gesteek en die bek word toegewerk, dat die watte nie kan uitkom nie. Dan word die vere op die bors vanmekaar gemaak en die vel van die borsbeen tot die sagte deel van die maag deurgesny.
Dan word daar koringmeel ingestrooi om die vel droog te hou en die bloed en vogtigheid op te suig. Daarna word die vel nie afgetrek nie, maar gedruk om dit nie te rek nie. Weer meel word ingestrooi hoe verder die vel afgeslag word. As mens by die bene kom, word by die knie ’n sny gemaak, maar so dat die been bly om die voet in posiesie te hou. Net bokant waar die stertvere uitkom, word ’n sny gemaak en die vel omgekeer met die binnenste na buite en die vel word versigtig opgedruk na die kop. Dit kan tot ’n bietjie verder as die oë gedruk word. Dan word die kop geskraap en ’n mes word tussen die kakebeen en die agterste deel van die kop ingedruk, sodat ’n mens die harsings kan uithaal. Dan word die vel, met die binnenste buite, met arsenikpoeier bewerk, en daarna word dit weer omgekeer met die vere na buite en die vere word uitgepluis. Dan is dit gereed om saamgevat te word om op te stop en op te sit, of anders om bestudeer te word soos dit is.
Toe ek een oggend wakker skrik, vind ek dat ons in die klein, maar goeie hawe Godhavn op Disko-Eiland was. Kapt. Bob moet meeste van die tyd op wees, veral natuurlik as ons op pad is. Hierdie slag, byvoorbeeld, was hy die hele nag op, en Pa met hom. Disko is ’n moeilike plek om te land as mens dit nie verskriklik goed ken nie.
Daar is ’n klein steenkool-myn naby Godhavn. Steenkool uithaal en visvang, is omtrent al wat die mense daar doen, behalwe dat hulle gaan jag, veral in die winter. Die meeste werk word deur die vrouens gedoen, terwyl die mans gaan visvang of jag. Toe ons aan land gaan, sien ons die vrouens met groot mandjies die steenkool uit ’n bootjie haal om dit te weeg en in ’n groot loods weg te pak.