Part 8
Kellerman wat by sy toestel staan, vra vir Art of hy gereed is, en Art se hy is heeltemal gereed. Toe bring kapt. Bob die skip weer kort by hulle. Die eerste slag kon Art nie skiet nie, omdat een van die kleintjies so-te-sê bo-op die oue was. Ons maak dus nog ’n draai en kom weer na hulle toe. Dit was ’n moeilike taak, want daar was taamlik ruwe deininge, en dit was nodig om die skip taamlik presies in posiesie te kry, sodat mens die kamera kon gebruik wat aan die stuurboord kant van die boeg opgestel was.
Toe trek Art los met sy groot boog. Ek moet daarby sê dat die boog ’n spankrag van omtrent vyf-en-negentig pond het, wat beteken dat ’n sterk man nie meer kan doen nie as om die snaar te span en die boog te buig, om nie eers van mik te praat nie. Ek het Art dwarsdeur ’n twee duims plank van sagte hout sien skiet.
Die eerste twee pyle het die beer in die nek geraak. Dit was ’n moeilike teiken om na te skiet, daar net die nek en ’n stukkie van die lyf bo die water uitgesteek het en Art maar op ’n skraal plekkie gestaan het op die boegspriet, terwyl die skip taamlik gerol het.
Die beer het omgedraai en gebrul en met sy poot na een van die kleintjes geslaan wat naby was. Met die volgende draai van die skip het Art nog twee pyle geskiet, en ek dink een van hulle het taamlik diep ingegaan. Die beer-wyfie het baie gebloei en haar kop het onder die water gegaan. Toe kom sy weer op en sy en die kleintjes vryf hulle neuse teenmekaar, en toe sak haar kop weer. Sy was dood. Ek reken dis die eerste keer dat ’n ysbeer met pyl en boog doodgeskiet is, in elk geval die eerste keer sedert die tyd toe die Eskimo’s nog primitiewe wapens gebruik het.
Die jonges het by die liggaam van hulle ma gebly totdat Carl in die platboom-skuit naby gekom het. Toe swem hulle weg en blaf soos ’n hele trop honde. Ons hys haar toe aan boord en gooi ’n seil oor haar. Toe agtervolg ons die jonges. Dit was die mees opwindende gebeurtenis wat ek ooit beleef het en baie interessant.
Carl het goed vasgetrap in die boeg van die skuit wat net baie geskommel het in die deininge, en die roeiers het hom na die jong bere geroei, terwyl die Morrissey naby gekom het om Kel ’n kans te gee vir sy afnemery.
Met die eerste gooi het Carl sy beer gekry. Hy het die tou om sy kop in die lug geswaai en toe laat skiet. Die lissie val net mooi oor die beertjie se kop. Dit was pragtig om te aanskou. Die mense in Pendleton, Oregon, wat ons die tou gestuur het, sou net baie in hulle skik daarmee gewees het. Pa het daar en dan voorgestel om een van die beertjies „Cowboy” te noem. Die eerste een sou „kapt. Bob” wees.
Die beertjie kon nie uitmaak wat gebeur het nie, totdat hulle begin om hom nader te trek. Toe begin hy te knor en te blaf. Toe Carl hom langs die skuit kry, byt hy die tou en klou en krap die boot en ook na Carl, en hy probeer om in te klim. Hy was bepaald lus om te veg. Een haal met sy kloue sou seker genoeg wees om iemand se arm skoon af te ruk. Carl het swaar handskoene aan gehad en beskermings vir sy polse.
As die beer probeer om in te klim, klap Carl hom met sy hand in sy gesig en druk sy pote van die skuit se rand af. Hy het na Carl gehap en was net kwaai. ’n Rukkie later, nadat hy die skuit ’n bietjie rondgesleep het, het dit Carl geluk om ’n slag van ’n tou agter sy skouers om sy lyf te kry en toe het hulle hom met ’n takel aan boord gehys.
Toe hy aan boord kom, het hy alles gebyt wat binne sy bereik kom, en probeer om die seile te skeur, en allerhande moeilikhede veroorsaak. Ons hys hom toe in die lug, en met ’n kleiner tou trek ons hom vorentoe na die hok wat by die boeg na bakboord gestaan het. Ons moes hom oor die kluiwer lig en aan die ander kant in die opening van die hok neerlaat. Op pad het hy die stoofpyp van die kombuis afgestamp.
Toe sit ons ’n tou om een van sy voorpote en onder die hok deur en trek so hard soos ons kon. Ons het sy kop op die manier ingekry en toe moes ons algar sy agterlyf druk. Na omtrent ’n halfuur se gesukkel was hy eindelik in sy hok.
Carl gaan toe en vang die ander beertjie wat intussen omtrent ’n kwart myl ver geswem het. Hom het ons maklik genoeg bo op die hok gekry. Maar terwyl Will teen die kluiwer staan en leun, spring die beertjie na hom, en hy het net bytyds weggespring. Die beer het op dieselfde plek weer neergekom. Dit was maar naby. Ons het hom net soos die eerste in die hok gesit.
Ons gee hulle toe ’n eend, en tot ons verbasing vreet hulle dit dadelik op. Dit is baie selde dat ’n dier so kort nadat hy gevang is, vreet. Hulle moet op daardie ysberg taamlik honger gewees het. Ons wou toe sien wat hulle sou maak met die hondekos wat ons in blikke gehad het. Dit word Ken-l-Rantsoene genoem en is heeltemal lekker, selfs vir mense. Die Eskimo’s in die noorde het baie daarvan gehou. Wel, ons bere was net gek daarna. Hulle het vir jou regtig stukke daarvan afgehap wat Carl op ’n lepel by die kant ingesteek het. Pa het hom gevra om vir „cap’n Bob” en „Cowboy” te sorg.
Dit was feitlik die end van die ekspediesie. Daar was natuurlik nog baie meer, en dit het nog ’n volle maand geduur eer ons by die huis was.
Nadat ons die jong beertjies gevang het, het ons Baffin-Baai oorgesteek na Holsteinsborg en Hobbs en geselskap opgelaai. En toe draai ons huis-toe. Op die heel eerste dag het ons die agterste skroefas en die skroef verloor toe ons een derde van die pad oor Davis-Straat was. Ons moes dus die orige van die afstand na Sydney sonder motor aflê. Ons het daardie hele 1400 myl geseil en dit met ’n paar harde windvlae. Ons het net gesukkel om deur die Straat van Belle Isle en die Golf van St. Lourens te kom, want ons het mis en teenwinde gekry. Dit het ons 15 dae geneem om die afstand net met seile af te lê. Maar dit was eenkant ’n mooi einde vir ’n reis op ’n skip wat eintlik net vir seile bedoel was eer ons die motor ingesit het.
En noudat ek terug is van Groenland, skryf ek dit op die Morrissey, met Kaap Breton-Eiland voor ons. Dit sal alles per spoor na Sydney gestuur word, en miskien sal die boekie naastenby gereed wees teen ons weer tuis is—tog maar ’n lekker plek, nè!
VOETNOTE
[1] Eland staan hier vir Eng. moose.
[2] Clams is ’n soort mossel wat in Amerika gevind word en chowder is ’n bredie wat van clams of vis gemaak word.
[3] ’n Harde Amerikaanse houtsoort.
[4] Die Auk is ’n groot soort pikkewyn wat waarskynlik uitgesterf is. Daar is egter kleiner voëls wat tot dieselfde famielie behoort, waarvan party kan vlieg en ander nie.
[5] Lywaarts: na die windkant.
[6] Pakhout is takke ens. onder in die skip om die goedere teen die water te beskerm.
[7] Pemmican is fyngestampte biltong (oorspronkelik van die bieson) met vet gemeng en in blikke ingelê het dit deel uitgemaak van die voorraade van ekspediesies na die Poolstreke.
[8] Die murre of guillemot behoort ook tot die auks. Sien aant. bl. 38.