Chapter 6 of 8 · 3950 words · ~20 min read

Part 6

Ons het hom papier en potlode gegee, en in die loop van twee dae het hy ’n mooi klompie tekeninge gemaak. Party van hulle sal gebruik word as versierings in die boek wat uit hierdie aantekeninge sal ontstaan. Dit is baie prettig om te dink dat my boekie oor Groenland gedeeltelik geïllustreer sal wees deur ’n regte Eskimo, en dat die prente self werklik in die kajuit van die Morrissey geteken is in die teenwoordigheid van my en Pa, daar ver in Walvis-Sond op agt-en-sewentig graad noorderbreedte.

Later het ek uitgevind dat Kakoetia ’n seun is van Panikpa vir wie kapt. Bob baie goed ken. Hy was een van Peary se manne en was ook ’n kunstenaar. ’n Klompie van sy tekeninge verskyn in verskillende boeke oor Peary se reise na die Poolstreek. Dit is interessant om te sien hoe die gawe om te teken oorgeërf word van vader op seun.

Ons gaan vir Kakoetia ’n groot rol papier gee, ’n paar skryfblokke, potloode en ’n mooi klomp pragtige tekenkryt, meestal „Crayola” wat Oupa Bub vir my gegee het. Hy is baie in sy skik daaroor, en ek reken hy sal in die winter baie pret hê deur prente te teken en te kleur. Ons het vir hom natuurlik ook nuttige dinge gegee, want hy was baie gaaf teenoor my. Ek hoop om vir hom later deur Rasmussen, of op ’n ander manier, ’n kopie van die boek te stuur, want Pa sê sy naam moet op die tietelblad verskyn as die persoon wat verantwoordelik is vir die versierings.

HOOFSTUK XI

WALRUSJAG

Omtrent om halfsewe in die aand van die sestiende Augustus het ons ’n kort end van Northumberland-Eiland ’n trop walrusse gewaar. Hulle het heeltemal vinnig in die water vooruitbeweeg, terwyl hulle so nou en dan dryf en baie soos seevarke opkom. Hulle kry die meeste van hulle kos op die bodem van die see; dit bestaan uit „clams” en ander goed van die aard.

Tussen hakies, kapt. Bob vis dikwels met ’n sleepnet om eksemplare van die bodem van die see te kry, en hier in Walvis-Sond het hy nog die beste trekke gemaak. Daar is „clams” en garnale in groot getalle. Dit is die rede waarom die walrusse van hierdie plek hou.

In ’n paar minute was die Eskimo’s in hulle kajaks en agter hulle aan. Dit was baie interessant om hulle dop te hou. Een Eskimo gaan voor die trop en maak ’n groot lawaai om hulle aandag te trek. Dan kom die ander jagters stadig en stilletjies van agter en probeer om miskien tot op twaaf voet van hulle te kom, en dan word die harpoen met alle mag in die walrus gegooi. Mens hoor dan ’n harde geblaas soos van stoom wat ontsnap, deurdat hy sy asem optrek. Dan slaan hy met sy stert en verdwyn. Die man in die kajak gee gou pad, om te verhinder dat die walrus miskien onder hom weer opkom. Dan hou hulle die dobber dop—dit is ’n opgeblaasde seehondvel wat aan die ent van die harpoen se tou vasgemaak is om te sien in watter rigting die gekweste walrus gaan.

As die dobber wegtrek of deur die dier onder die water getrek word, dan volg hulle. Dit is alles verskriklik gevaarlik en menige Eskimo word beseer of doodgemaak as die verwoede walrus ’n aanval maak op hul ligte bootjies wat hy met een stoot van sy slagtand kan verpletter. As die walrus aanval, lig hy sy kop op en kom met sy slagtande neer op die ding wat hy aanval, waardeur hy dit verskriklik oopskeur. Ek het hulle al baie dobbers op die manier sien aanval.

As die walrus opkom en die manne kan naby kom, dan word die hele ding weer herhaal, behalwe dat hulle dié slag probeer om naby genoeg te kom om die dier met ’n speer dood te steek. Die origes bly dikwels naby die gekweste en blaf en brul, baie nes die geloei van ’n koei, en proes en blaas water uit. Dit is ’n verskriklike lawaai, en dit is baie opwindend. As die ander naby kom, dan stamp die Eskimo’s met die roeispane op die rand van die boot en skreeu om die walrusse af te skrik, of anders mog die hulle aanval. Partykeer as hulle die walrusse so wil verwilder, kom hulle tot drie of vier voet van hulle af.

Binne ’n kort tyd was daar vier walrusse geharpoeneer waarvan drie met die speer doodgesteek was en gereed om op die Morrissey gehys te word. Die gewonde een was aan die groot boot vas. Ons wou hom nie skiet nie, want hy het ’n pragtige kop gehad, en ’n koeël beskadig maklik die kopbeen en bederf dit as ’n eksemplaar.

Art, Pa en kapt. Bob het in die groot boot uitgegaan om hom te haal. Die kaptein wou hom self doodsteek. Hy het vir Art georder om hom met sy pyl en boog te skiet, Art het sewemaal na hom geskiet en hom elke slag in die nek geraak. Hy het erg gebloei en was net briesend. Die pyle sou sy dood veroorsaak het, maar hulle wou hom so gou as moontlik afmaak.

Hy het so hard geruk dat hy die Morrissey geswaai het. Hy was nou aan die skip vas met ’n Eskimo-tou wat van die vel van die gebaarde seehond, of oeghsoegh, gedraai is. ’n Bewys van sy wonderbare krag is die feit dat hy in staat was om die skip om te swaai.

Eindelik het hy hoop opgegee om los te kom en toe storm hy reg op die groot boot af. Hy draai half op sy rug, sit een van sy groot vinne aan elke kant van die boot se boeg en maak met sy slagtande ’n verwoede aanval op die boot. Ons het op die dek gestaan en kyk, omtrent maar net dertig voet van hom af, en kon die splinters sien waai. Hy het twee gate dwarsdeur die boot gemaak.

Die Eskimo’s was in hulle kajaks en hulle en kapt. Bob het daarin geslaag om die groot bul dood te steek. Een slag het hy direk onder ’n kajak opgekom wat werklik so-te-sê van sy rug afgegly het toe die man daarin weg roei vir al wat hy werd was.

Toe hy dood was, het ons die twee voorste takels van die stagseil aan hom gehaak en hom aan boord gehys, ’n taamlik moeilike werk. Daarna het ons die ander gaan haal wat die jagters doodgemaak het. In die geheel was dit sewe en ’n kleintjie waarvan ek netnou sal vertel.

Wat mooi is by hierdie soort jag is dat nie ’n enkele pond vleis verlore gaan nie. Mens kan sê dit is ’n seën vir die Eskimo’s. Hulle vat elke stukkie en gebruik dit as kos vir hulle self en vir hul honde. Ons koms het hulle net gehelp om ’n voorraad te kry. Ek reken hulle het in die geheel vier of vyf ton vleis gekry van die walrusse en narwalle.

Daarna het Pa, Dan en ek in die klein roeiboot twee jagters in kajaks gevolg. Hulle het reguit tussen ’n trop van omtrent veertig ingegaan en een geharpoeneer en vir ons ’n teken gegee om hom te kom skiet. Daar was ’n taamlike groot trop van hulle binne vyftig tree van ons wat geproes, geknor en geblaf het. So nou en dan het een tot amper teenaan ons boot afgedwaal. Hulle lyk vreeslik komieklik as hulle hul gesigte met die baarde uit die water steek en ’n mens aanstaar soos kwaai ou mans. Dan gee hulle ’n knor, blaas ’n straal stoom uit en verdwyn.

As hulle kwaad gemaak word soos nou, dan vorm hulle ’n kring met die slagtande van die bulle na buite, na die jagters gekeer. Ek kan my nie ’n meer spannende soort sport voorstel nie. Ek wens ek kan eendag leer om ’n kajak regtig goed te hanteer en probeer om self ’n walrus dood te maak.

Toe ons taamlik naby was, skiet Pa vyf skote, en ek dink vier daarvan het hom in die nek en in die kop geraak. Maar dit was net ’n 2.56 geweertjie—nie ’n groot kalieber nie—en het dus niks uitgevoer nie. Toe skiet Dan ’n skoot met sy groot ver-draende geweer, en raak hom agter in sy nek sodat hy dadelik omval. Hy het egter op die water gedrywe. Baie van hulle sink sodra as hulle dood is.

Toe het ons teruggegaan na die een wat Dok en Keilerman geskiet het, nadat ons die ander gehaal het. Twee jagters in kajaks het daar gewag. Dit was ’n walrus-koei. Maar die interessantste was dat daar by haar in die water twee kleintjies was. Die oudste een was ’n bulkalf, omtrent ’n jaar oud, reken ek.

Hierdie tweetjies wou ons lewendig in die hande kry, dus het Carl sy lasso gaan haal. Pa het hom in ’n klein skuit soontoe geroei. Carl staan daar en swaai, sy lasso gereed om te gooi as hy die kans kry. Hulle roei tot teenaan die koei wat gedeeltelik bo die water drywe.

Toe die kalf met die slagtande opkom, gooi Carl sy tou, maar dit gly af. Toe besef hulle dat dit makliker sou wees om die klein kalf sonder slagtande te vang, daar hy skynbaar nie so wild was nie. Carl probeer dus om hom te vang, en met sy derde gooi kry hy sy tou om die dier, wat glad nie maklik was nie, want sy kop was klein en glibberig, en hy het gou geduik.

Daar was ’n groot gespat en ’n gedoente. Die klein walrus was gladnie so klein nie. Hy het omtrent 150 pond geweeg en was so sterk soos ’n jong bul. Carl trek toe die tou oor die agterstewe en kry dit uiteindelik nog ’n paar slae om die dier, en toe maak hy hom heeltemal vas. Ten slotte het hulle hom na die Morrissey gesleep en toe is hy met die takels vir die platboom-skuite op die dek gehys. In die tussentyd het die ander jong walrus verdwyn.

Ek dink dis seker die eerste keer dat ’n walrus met ’n tou gevang is. Dit is in elk geval die eerste keer dat hierdie „cowboy” dit reggekry het. Ek weet dat ysbere al vantevore so gevang is.

Ons het die klein walrus twee dae lank aan boord gehou. Pa het hom Halitosis genoem. Hy het nie al te lekker geruik nie. Ons het probeer om hom melk te voer en hy het skynbaar deur ’n waterslang ’n bietjie ingekry. Hy het vir elkeen kwaai geblaf. Maar dit was regtig treurig om hom te sien net nadat hy aan boord gekom het. Die liggame van die ander walrusse het in ’n groot hoop op die dek gelê. Hy begin toe dadelik rond te snuffel totdat hy sy moeder kry, en toe gaan lê hy doodstil teen haar.

Later het Harry hom op ’n pynlose manier doodgemaak, met kloroform. Hy is toe gebalsem om net soos hy was, saamgeneem te word na die Amerikaanse Museum vir Natuurstudie.

HOOFSTUK XII

NA JONES-SOND

Ons het al ons jagters by Karna agtergelaat, nadat ons ’n dag daar deur gebring en rondgekuier en met die Eskimo’s afgereken het vir die werk wat hulle vir ons gedaan het. Hulle het natuurlik al die walrusvleis gekry, ook die vleis van nog twee narwalle wat gedurende ons afwesigheid gevang is. Dit het ons aan dr. Rasmussen te danke gehad, want hy het daarvoor gesorg dat elkeen sy uiterste bes doen om vir ons die nodige eksemplare te verskaf.

Daar was in werklikheid nog drie narwalle, maar een kleintjie het Harry heel gehou en gebalsem. Die geraamtes en kopbene van die ander het ons ook saamgevat. Kellerman het ook lewende beelde geneem wat wys hoe mens die dooie narwalle aan land bring en stukkend sny. Dit was in die nag toe dit betrokke lug was en nie lig genoeg om portrette te neem nie. Dus het ’n paar mans helder flikkerligte wat Kellerman gehad het, opgesteek en die het die strand met ’n snaakse helder, amper verblindende lig verlig.

Nadat die narwalle aan land gebring is, het Koedloektoe en die ander groot stroke van die vel afgesny waarvan hulle algar baie hou. Hulle het dit uitgedeel en al die mans het dit gretig geëet. Hulle manier om dit te eet is om ’n groot stuk in die mond te stop totdat hy vol is, dan sny hulle dit met ’n mes teen hulle lippe af. Hoe hulle nooit hul neuse of lippe raaksny nie, begryp ek nie. Dit lyk in elk geval baie komieklik, en behoort ’n goeie rolprent te maak.

Ek het ook narwalvel geproe, maar het dit niks lekker gevind nie. Dit is taaierig en word skynbaar afgesluk sonder om gekou te word. Ek dink die binneband van ’n outo sal omtrent net so lekker wees, behalwe dat hy beter sal ruik.

Poeadloena en nog ’n jagter het saamgegaan na Northumberland-Eiland. Die agtermiddag het ons nog ’n paar walrusse gekry, maar terwyl ons rondgepeuter het om ’n paar lewende beelde te neem, het ons twee van hulle verloor. Ek dink dit het die Eskimo’s ontmoedig, want hulle kon nie begryp nie hoe die wit mense goeie vleis kon laat verlore gaan wat hulle feitlik doodgemaak het deur allerhande fratse uit te haal vir ’n man wat in ’n masjien kyk en ’n handvatsel draai. Daar was daarem een groot walrus, en ons het sy vleis na Keate geneem, die dorpie waar ons die jagters afgelaai het. Dit was net ’n klein endjie van die plek waar ons skipbreuk gely het.

Daardie aand het ons begin om Baffin-Baai oor te steek na Jones-Sond aan die Kanadese kant. Ons was eers van plan om verder noord te gaan na Eta wat maar omtrent sestig myl vandaar was. Maar dit het laat in die jaar begin word, en die Morrissey het vir kapt. Bob al baie moeilikheid gegee. Al was hy goed heelgemaak, het hy darem nog ’n bietjie gelek en ’n klomp plekke het gebars. Die voorste dek het byvoorbeeld so erg gelek dat toe die walrusvleis daar opgestapel was, die bloed afgetap het tot in ons kajuit en die tafel, maar veral Bob Peary se kooi besmeer het. Dit was eenvoudig onmoontlik om die dek in orde te bring, want al die voeë moes opnuut toegestop word todat die skip weer na ’n skeepswerf kon gebring word.

Dit het in elk geval raadsaam gelyk om nie verder noordwaarts te gaan nie. Buitendien moes ons nog terug na Holsteinsborg om Hobbs se geselskap te haal. As dit nie die geval gewees het nie, sou kapt. Bob verder gegaan het na Eta.

Nadat ons een dag goed gevorder het met ’n stywe windjie vir ’n paar uur, het ons die mond van Jones-Sond bereik, en daar is ons ontvang deur ’n digte mis wat al ons takelwerk met ys bedek het. Nadat ons ’n hele end in Jones-Sond geseil het in die hoop om die laerliggende land te bereik waar ons miskien muskus-osse sou kry, is ons deur dik dryfys teruggehou. Oornag is ook nuwe ys gevorm. Die winter was blykbaar net om die hoekie.

Ons draai toe om en vaar weer na die mond en wag toe vir die mis om op te klaar. Daar was aan alkante van ons volop dryfys, dus was dit nie raadsaam om te waag om te ver in deur die ys gevang te word nie. ’n Skielike windvlaag kon dit byvoorbeeld rondom ons vaswaai en ons totaal verhinder om uit te kom.

Vroeg in die agtermiddag het die mis verdwyn en ons seil toe in Craig-Hawe wat aan die noordekant van die sond by Ellesmere-Land lê. Pa, Rasmussen, Dok en Joe, die matroos, gaan toe aan land en berig dat die stasie gesluit was. Dit is die noordelikste poliesie-pos in die wêreld en is gewoonlik deur die beroemde Noordwestelike Berede-poliesiemag beset.

Tot ons groot teleurstelling was daar niemand by die stasie nie. Later het ons verneem dat hulle verder noordwaarts getrek het na ’n nuwe stasie op Ellesmere-Land. Ons het ’n briefie agtergelaat om te sê dat ons daar gewees het. Daar was twee hoofgeboue, barakke en ’n pakhuis met olievate en sakke steenkool daaromheen gepak. Alles het baie netjies gelyk. Die geboue self was gesluit.

Toe ons Craig-Hawe verlaat, gewaar ons op ’n taamlike afstand twee gebaarde seehonde op die ys. Toe die Morrissey naby die een kom, skiet Art Young hom met ’n koeëlgeweer dood met ’n netjiese skoot dwarsdeur die nek. Toe draai hy om en skiet na die ander een. Hy het hom wel geraak, maar die seehond het van die ysskol afgeseil en waarskynlik gesink.

Toe hulle die eerste seehonde kry, spring Jim, die matroos, wat gewoon is om op die seehond-jag in Newfoundland gedurende die lente seehonde dood te maak, op die ysskol en gee die seehond met ’n swaar haak wat spesiaal vir die doel gemaak is, ’n hou oor sy kop. Dit het die kopbeen gebreek, sodat die seehond nutteloos was as ’n eksemplaar vir wetenskaplike doeleindes. Ek het dus orders gekry om uit te kyk na meer van hulle, want ons wou baie graag ’n goeie eksemplaar hê.

Ons was nie seker of daar walrusse in Jones-Sond was nie. Maar Dok en ek het spoedig omtrent ’n myl vorentoe drie diere op ysskolle gewaar wat vir ons baie na groot seehonde gelyk het. Ons het hulle met die verkyker dopgehou en dit blyk toe dat dit walrusse was, en dit nogal besonder grotes.

Ons seil toe reguit na hulle toe en Carl en Dok en Cal en Pa sit in die boeg klaar met hulle geweers. Toe hulle taamlik naby was, skiet hulle en raak ook die walrus, maar sonder om hun dood te maak. Dit is baie moeilik om hulle dood te kry en as daar nog enige lewe in hulle is, seil hulle van die ys af in die water. Die arme groot walrus lig hom toe met sy vinne op om te sien van waar die lawaai kom en wat dit beteken.

Dit lyk of hulle in die water taamlik kwaai is, en dit is taamlik moeilik om naby hulle te kom. Maar op die ys, lyk dit, is hulle baie dom en treurig en lomp, soos ’n yslike lui koei. Maar daardie slagtande van hulle is natuurlik verskriklik gevaarlik, en ek glo nie daar is ’n dier wat met ’n walrus kan baklei nie, nie eers ’n ysbeer nie. Maar hulle hoor en sien bepaald maar swak. En as hulle op ’n ysskol in die son lê en slaap, en die water is so stil dat die ys nie skommel en hulle stoor nie, dan is dit regtig maklik om baie naby hulle te kom.

Hierdie walrus, al het hy drie skote gekry, probeer om van die ysskol af te kom. Toe skiet Carl hom met Pa se groot geweer dood. Ons laat staan hom op die ysskol en gaan verder na die ander skol, waar nog twee lê en slaap. Hulle het elkeen ’n raakskoot gekry, maar dit het hulle darem nog geluk om die water te bereik. Carl gooi toe my harpoen van die skip in die een, maar die ander een het gesink, hoewel Nielsen, Rasmussen se bestuurder wat ons op hierdie deel van ons reis vergesel het, hom amper met sy harpoen gekry het. Ons was jammer om hom te verloor.

Ons algar hou nie daarvan om enige dier dood te maak en dit dan te laat verlore gaan nie. Om die waarheid te sê, ek het gedink ek sou dit groot pret vind om diere dood te maak. Dit is bepaald baie opwindend, maar ek glo nie ek gee baie daarvoor om nie. Dit is alles goed en wel om diere dood te maak om hulle te eet, of vir ’n museum. Maar ek glo nie ek sou ’n dier wil doodmaak net om iets te kan wys nie. Dit lyk vir my mensliker om hulle lewendig te kom sien en hulle te laat staan waar hulle is. Na wat Pa vir my vertel, ook kapt. Bob en andere, moet wild hier ’n paar jaar gelede baie meer volop gewees het, maar ander ekspediesies het natuurlik vreeslik baie doodgemaak. Natuurlik maak ook die Eskimo’s nou baie meer dood vandat hulle geweers het. Heel moontlik sal oor ’n ruk, nes in die weste van ons land, al die wild hier uitgeroei wees.

Ons het nog ’n walrus gesien wat nie te ver weg was nie. Die Morrissey het baie na aan hom gegaan en Art het hom twee pyle in die nek gegee. Hy het van die boegspriet geskiet sodat hulle ’n lewende beeld daarvan kon neem. Die pyle sou hom miskien doodgemaak het, want hulle het diep ingedring en hom baie laat bloei. Maar dit sou ’n ruk geduur het, dus het hulle hom maar met ’n koeël doodgeskiet.

Niks van die diere is gemors nie. Harry Raven het die harsings vir die museum gehou, en lede van die ekspediesie het die koppe gehou. Alhoewel ek dink dat ons manskappe ’n lekker tyd en sekerlik baie pret gehad het, het hulle nogtans min kans gehad om regtig te jag. Ek weet Pa het gehoop dat die manne wat vrywillig saam gekom het en baie gewerk het, meer pret sou gehad het. Hy is dus bly as daar vir hulle ’n kans is om iets te kry wat hulle kan saamvat. Die vleis het ons gehou vir die Eskimo’s by Pond-Baai waarheen ons op weg was.

HOOFSTUK XIII

NANOEK!

Daardie nag in Jones-Sond, nadat ons die walrusse gekry het, was baie pragtig. Die groot volmaan het geskyn terwyl die sonsondergang roos- en goudkleurig was. Die son het daardie aand regtig ondergegaan, hoewel dit natuurlik heeltemal lig gebly het. Dit was die eerste maal na ’n lang tyd dat ons die maan gesien het. Die maan en die sonsondergang was albei die hele nag sigbaar, weerkaats deur ’n dun laag silwerige, pas-gevormde ys.

Ek en Pa het die hele nag opgebly. Pa het ’n gebaarde seehond op ’n ysskol geskiet. Dit was regtig ’n goeie skoot, mooi deur die kop. Ralph het toe op die ysskol gegaan en ’n riem om die seehond gesit, en ons het hom toe met die takel vir die platboom-skuite aan boord gehys, en daarna is ons weer weg. Kort daarna sien ons weer ’n grote op ’n ysskol en Pa probeer om hom van veraf te skiet, maar dit was mis, daar hy te hoog gevat het. Die twede skoot was raak, maar die seeleeu het nog afgeseil en kort daarna bo die water verskyn. Dan en Pa het in ’n skuitjie uitgegaan om hom te probeer kry, maar elke slag as hulle naby hom kom, raak hy weg en kom op ’n ander plek weer uit. Dit was hopeloos om hom te skiet, tensy hulle naby genoeg kon kom om een van die seehond-hake in hom te steek, anders sou hy tog maar sink.

Na ’n ruk het hulle maar opgegee en omgedraai. Toe verskyn daar drie seehonde naby hulle, wat hul koppe uit die water steek om te sien wat dit alles beteken. Maar hulle het so gou weer weggeduik dat ons nie kon skiet nie.

Die nuwe ys het vinnig gevorm en die barometer was aan dale, dus het ons begin padgee na die mond van die sond, daar kapt. Bob wou uitkom eer daar gevaar was vir moeilikheid met die ys ingeval ons ’n storm kry. As dit vroeër in die seisoen gewees het, sou ons graag in Jones-Sond gebly het, want daar was bepaald baie wild.