Chapter 3 of 8 · 3982 words · ~20 min read

Part 3

Carl, mnr. Streeter, Art Young en ek het saam met twee Eskimo’s uitgegaan om in die mond van die baai haaie te vang. Ons het omtrent van een- tot vieruur gevis, maar het nie hond haar afgemaak nie. Later het ons deur ruil ’n paar pragtige modelle van goed uitgeruste kajaks gekry, ook van klein sleetjies met swepe en geweers daarop vasgebind met rieme.

Ons het met die Goewerneur die hele Godhavn deurgegaan, en Carl het opgetree as tolk. Dit is gerieflik om hom by jou te hê want hy praat taamlik goed Deens. Hy is ’n Amerikaner, maar sy ouers is albei Noors en by hulle huis in Minnesota het hulle baie Noors gepraat, en dit is baie nes Deens.

Ons het die drukkery waar die enigste koerant in Groenland gedruk word, besoek. Dit is ’n maandblad, en die drukkery is ’n klein rooi geboutjie met een klein drukpers.

Omtrent drieduisend koerante in die Eskimo-taal word gratis onder feitlik al die inwoners van Groenland versprei. Die Goewerneur het ons vir ons versameling ’n ingebinde kopie present gegee. Die grootste gedeelte word deur Eskimo’s al langs die kus geskryf en ingestuur.

Die volgende oggend omtrent halfsewe het ons die anker gelig en Godhavn verlaat. As die anker opgetrek word, word almal na die windas geroep en dit word met ysterstange, soos handvatsels van ’n pomp, gedraai. As dit ’n lang ent ketting is, duur dit baie lank en is dit regtig harde werk.

In die middag het Pa my georder om ’n sakkie vol te maak met goed om te handel, want ons sou by ’n dorpie met die naam van Proven aangaan. Ons het omtrent agtuur daar aangekom. Die hawe was baie klein, sodat die Morrissey nie kon ingaan nie en ons die boot moes gebruik. Ons is op die klein landingsbrug deur die hele bevolking begroet.

By die punt van die dok was omtrent agt haaie wat nog lewendig was met toue onder die water vasgebind. Later het Harry Raven een van tien voet lank gekry om saam te vat. Agterna het hy uitgevind dat die lewer ses voet lank was.

Terwyl Pa en die ander tee gedrink het met die Goewerneur (al hierdie klein dorpies in die suide het ’n Deen aan die hoof wat Goewerneur genoem word, al is die gemiddelde bevolking net veertig), het ek uitgegaan om ’n paar kamaks of velstewels te handel. Dit is ’n soort van dubbele, hoë skoen of stewel wat van die vel van seehonde gemaak word met die hare na binne en binne-in nog ’n harige stewel met gras daaronder om dit sagter en warmer te maak.

Die harige seehond van Groenland is heeltemal anders as die seehond van Alaska wat bont lewer. Hy het nie bont nie, maar net growwe hare, en het g’n waarde nie, behalwe vir sy traan en vel. Ek kon verskillende pare kamaks kry, maar hulle was omtrent net half so groot soos my voete. Die Eskimo’s is baie klein mense, en die grootstes kom gewoonlik omtrent net tot by my skouer. Natuurlik het hulle ook klein voete.

In Proven het ek twee broeke van seehondvel geruil, een vir ’n baadjie en die ander vir ’n dosie lekkers en ’n wol-oorhemp. Ek het ook ’n soort halskettinkie soos die vrouens daar dra as hul vir hulle uitdos vir ’n steen seep, ’n stuk sjokolade en ’n soldate-spieël geruil, en ek dink ek het ’n goeie slag geslaan, want die halskettinkies is moeilik om te maak en moeilik om te kry.

Ons wou ook ’n kajak kry, maar dit sou gemeen gewees het om een te vat, want die Eskimo’s is nes kinders en sal amper enigiets gee vir lekkers en mooi stowwe. Die kajak is hul vernaamste middel om kos te kry en is vir hulle dus verskriklik belankrik. Ons het altyd probeer om niks te vat wat vir hulle onmisbaar is nie, en om iets regtig nuttigs in ruil te gee vir belangrike voorwerpe, So het ons byvoorbeeld later toe ons ’n paar kajaks ruil, hout en ander materiaal waarvan hulle nuwes kon maak, gegee. ’n Baie gewenste en nuttige ruilmiddel van ons was Tetley-tee, in halfpond-blikkies. Dit, dikwels met ’n sakkie of blikkie suiker, was orals baie welkom, terwyl ons dit aan boord altyd self gedrink het.

HOOFSTUK V

UPERNIVIK EN DIE EENDE-EILANDE

Ons het omtrent middernag van Proven vertrek. Na ons vertrek uit die klein hawe, toe ons ’n paar kaal rotsagtige eilande verbyseil, het Pa en ’n paar ander aan land gegaan om ’n bietjie te gaan skiet. Ons het, toe ons aankom, ’n groot menigte van voëls en eende daar sien rondvlieg.

Hulle het van een- tot vyfuur weggebly, solank soos ek geslaap het. Later het Pa my vertel dat dit pragtig was, die water grys en stil soos silwer en die hemel loodkleurig met helder tinte van oranje en lemoengeel waar die son op die gesigseinder was. Hulle het seeswaels (E. tern), eider-eende en meeue saamgebring, sommige om te eet en ander om op te stop.

Die volgende dag was dit mistige weer, dus het ons stadig geseil, want ons moes op ons hoede wees vir ysberge wat ons net op kort afstande kon sien. Omtrent nege-uur die volgende oggend het ons Upernivik bereik, die laaste stad van enige betekenis in Noord-Groenland en, as ek my nie vergis nie, die noordelikste stad in die wêreld. Daar woon ’n Deense Goewerneur en ’n paar ander Dene. Sy naam is Goewerneur Otto, en hy het ons baie goed behandel, ook later op die terugreis.

Upernivik is ’n mooi klein plek, op ’n eiland aangelê. Op die plek waar ons geland het, was net ’n klein skeepswerf, ’n paar pakhuise en lewensbehoeftes. Van hierdie hawe het ’n nou paadjie oor ’n steil heuwel na die eintlike stad gelei. Die is aan die ander kant teen ’n hang na die suide geleë met ’n pragtige uitsig op Sanderson-Hoop, ’n taamlik groot berg wat ’n paar myl weg is en aan ’n ope fjord lê wat gladnie vir ’n hawe deug nie. Die dorp bestaan uit ’n dosyn houthuise, party waarvan regtig mooi is, veral die Goewerneur se woning en een vir die dokter wat daar woon; laasgenoemde doen ook diens as ’n hospitaal. En rondom die houthuise lê die sooihutte van die oorspronklike bevolking wat skynbaar vashou aan hulle ou lewensgewoontes. Op ’n heuwel by die dorp staan ’n fraai nuwe kerk.

Ons het die middag saam met Goewerneur Otto en sy dogter Ruth, ’n meisie van omtrent twaalf jaar, in hulle huis geëet. Daarna het ons by die hawe lewende beelde geneem van ’n Eskimo wat sy kajak omkeer. Dit het gelyk of hy gladnie swaar kry nie. Hy val eenvoudig na een kant toe om terwyl hy in sy kajak of vel-boot sit en kom dan aan die ander kant weer op, deur net ’n draai met sy roeispaan te maak. Toe hy dit doen, het hy ’n waterdigte pak aangehad en ’n soort kappie op sy kop wat hy styf om sy nek getrek het, en om sy middel, waar hy in die opening in die dek van die kajak gesit het, was ’n stuk vel styf vasgemaak om die water uit te hou.

Robert Peary het lus gekry om dit ook te probeer. Hy verwissel toe sy klere vir ’n hemp van seehond-vel en klim in die kajak—dit was moeilik om daarin te kom, want hy is soveel groter as die Eskimo—en keer half om. Die kajak was nou onderstebo en sy kop kom aan die ander kant uit, maar gaan met ’n gespat weer onder. Hy kon eenvoudig nie weer orend kom nie en hang toe met sy kop onder die water en die boot onderstebo oor hom. Ek het regtig gedink hy verdrink.

Hy kom vir die twede keer op en skreeu om hulp. Ons was natuurlik naby en Carl roei toe onmiddellik in ’n skuit na hom toe, maar val amper self in die water terwyl hy vir Robert help om weer regop te kom. En het die Eskimo’s nie gelag nie! Hulle het dit as ’n groot grap beskou. Maar Robert het skynbaar gevoel asof hy soveel yswater van Baffin-Baai ingesluk het as wat hy kon verdra en hy was so koud dat hy reguit na die skip teruggegaan het om ander klere aan te trek. Dog ek sal ’n weddenskap maak dat hy ander jaar by die huis in Maine die ding sal regkry.

’n Paar Eskimo’s is uitgestuur om haaie vir die museum te vang en Doc, Ralph en ek het in die boot agternagegaan. Hulle het toe al vier grotes gevang en ’n ander een het weer oor boord geval. Hierdie Groenlandse haaie is baie stadig en lui. Hulle sit hulle glad nie teë nie. Hulle beweeg baie stadig en dit lyk of hulle niks kwaai is nie, en heeltemal anders as die haaie wat ek in Florida gesien het wat mense daar gevang het.

Die volgende oggend het Goewerneur Otto ons saamgevat om sy honde te sien wat hy gedurende die somer heeltemal alleen op ’n kaal rotsagtige eiland omtrent ’n myl vandaar hou. In die somer word hulle omtrent alle drie dae met eende gevoer wat in ’n groot mandjie soontoe gebring word. Die meeste eende is skynbaar al taamlik lank bewaar, sodat hulle alle taamlik „ryp” is. Maar die honde hou bepaald daarvan.

Ons het in ons groot skuit oorgegaan met die goewerneur en ’n paar Eskimo’s wat die kos gedra het. Toe die honde—dit was omtrent ’n dosyn—ons sien kom, storm hulle af na die see en volg ons soos ons verbygaan, terwyl hulle aanhoudend blaf. Hulle het goed geweet dat dit etenstyd was.

Ons het geland en besluit om hulle ’n end van die water af te voer waar dit gelyker was en Kellerman dus beter in staat sou wees om lewende beelde te neem. Terwyl die Eskimo’s die groot mandjie met voëls gedra het, moes een van hulle die honde afhou. Daarvoor moet hy ’n roeispaan gebruik. Tog het hulle opgespring en probeer om die mandjie vleis op die man se skouer te bereik, sodra hulle die minste kans kry. Ek het g’n die minste twyfel nie dat hulle hom sou onderstebo gespring het as hy alleen gewees het.

Toe is die voëls klompiesgewys vir die honde gegòoi. In ’n oomblik was hulle verskeur en opgevreet. ’n Hond kan een van hulle in ’n oogwink oopskeur en hom afwurg, alles behalwe die vere. Daar was baie bakleiery, en die hele tyd was daar ’n groot lawaai soos hulle tjank en vir mekaar blaf.

Dit was baie interessant om die koning-hond te sien. Elke span van honde in hierdie land het ’n leier, die koning wat baas is. Hy is gewoonlik die swaarste en mooiste onder hulle en natuurlik ook die baas-bakleier. Ek dink hy spook die leierskap eenvoudig uit. Een ding is seker, as hy vir hulle iets „sê”, dan voer hulle sy orders gou genoeg uit, of anders kry hulle op hul bas.

Die koning het ook ’n koningin, en dit is grappig om te sien hoe hy vir haar sorg. As sy ’n eend, of ’n stuk daarvan, beetkry, dan staan die koning maar net by haar en sorg dat g’n ander hond haar molesteer nie. As een van hulle opgewonde raak en naby die koningin en haar kos mag kom, dan gee die koning net een brom—en dit is die end van die saak. Of as ’n ander hond ’n stuk eend het en die koning kom na sy kant toe, dan laat hy dit sommer val en hardloop weg, of hy gaan lê op sy rug en soebat. Daar was sekerlik tug op die eiland.

Toe die spul oor was, was daar net ’n klompie vere op die rotse rondgestrooi en die honde se bekke en koppe was besmeer van die bloed, soos hulle die vleis verskeur het.

In elk geval het hulle blykbaar algar ’n goeie maaltyd gehad en het hulle vir die eerste keer rustig gelê om vir die volgende etenstyd oor drie dae te wag. In die winter is daar werk vir hulle, baie werk. Hulle is natuurlik van groot belang vir die mense in hierdie noordelike streke. Daar is g’n perde nie en natuurlik g’n outo’s of enigiets van die aard nie. Dus word alles op sleë vervoer en die word deur honde getrek.

Die hondevelle is besonder fraai. Die haar is dig en sag en blink. Pa het ’n paar hondevelle gekoop om ’n jas daarvan te laat maak.

Daardie agtermiddag het ons Upernivik verlaat en ’n noordelike rigting oorgesteek na Melville-Baai. Algar was daar om ons vaarwel te sê en die Goewerneur het bo die heuwel waar die Deense vlag waai, sy kanonnetjie laat afskiet. Hulle het ons ’n saluut gegee met drie kanonskote en ons het met drie geweerskote geantwoord.

Die Eende-Eilande is ’n klompie rotsagtige klein eilande, naastenby twaalf myl van die vasteland van Groenland aan die suidelike end van Melville-Baai. Ons het hulle omtrent twee-uur die volgende agtermiddag bereik en in ’n soort van hawe tussen die grootste twee eilande geanker. Ek reken die grootste is omtrent twee myl lank en sowat ’n halfmyl wyd, en heuwelagtig en vol rotse. Langs die see waar die land ’n bietjie vlak is, is die rotse oorgroei met mos en is daar kolle met vleie en modder.

Op albei eilande het ons taamlik rondgeloop en groot getalle van eider-eende teëngekom wat daar in groot troppe broei. In die ou dae het die walvisvaarders as hulle na Baffin-Baai gekom het, hulle hoofkwartier hier opgeslaan en skeepsvragte van eende-eiers bymekaar gemaak.

Ons het baie eende op hulle neste gesien. Die nes is somar ’n donsagtige bol vere op die gelyk grond. Hulle pluk die donse uit hulle borste, sodat die wyfies as mens hulle in die hande kry, lyk asof iemand ’n handvol donse daar uitgetrek het. Dit word eider-dons genoem en word vir baie goeie bulsakke en kussings gebruik. Dit is baie warm en ook van groot waarde. Die Eskimo’s versamel dit van die neste en pluk dit van die eende, en dit, saam met die velle van vosse en seehonde en ’n paar ander artiekels soos die ivoor van walrusse en die slagtande van narwalle is die vernaamste artiekels vir handel met die buitewêreld.

Die mannetjies en wyfies van die eider-eende is baie verskillend. Die wyfie is heeltemal bruin, terwyl die mannetje net ’n bietjie bruin op sy bors en maag het, met baie wit op sy rug en aan sy nek, en vere wat donker-grys of amper swart is. Die wyfie is baie stadig en dit is baie maklik om haar by te kom en dood te maak. Ons het ’n hele klomp van hulle geskiet om te eet en hulle aan die takelwerk opgehang waar Billy, die kok, dit kan haal wanneer hy dit nodig kry. Die mannetjie is baie wilder en vlieg vinniger en is taamlik moeilik om te skiet. Daar was baie min mannetjies op Eende-Eiland. Dit lyk of die mannetjies op eie houtjie weggaan, terwyl die wyfies broei. Later het ons in die fjords anderkant Upernivik baie van hulle teëgekom. Albei geslagte is groot en swaar en heerlik om te eet.

Sover terug as die jaar 1850 en vir sowat dertig jare daarna is in hierdie dele veel jag op walvisse gemaak. Baie van die skepe het van Skotland gekom. Daar is op die heuwel of klein berg by Eende-Eiland ’n klipbaken van walvisjagters en ook ’n ringmuur vanwaar hulle uitgekyk het. Tussen hakies, in daardie baken het Peary in 1888 ’n dokument agtergelaat. Ons kon egter niks vind nie. Waarskynlik het die Eskimo’s al lank gelede alles daar uitgehaal.

In ’n laagte naby die water, waar ’n hoop vuilgoed gelê het, het ons die graftes van ’n paar walvisjagters gevind. Hulle was met klippe bedek, maar net een naambord het oorgebly. Daarop was die volgende te lees: „In memory of William Stewart, A. B., S. S. Triune of Dundee, June II, 1886. Aged 24.”

Art het met my uitgegaan om met my nommer sestien haelgeweer te gaan skiet, maar ek het nie goed gevaar nie. Ek het nie baie oefening gehad om voëls in die vlug te skiet nie en is, daarin maar sleg. Om met ’n twee-en-twintig koeëlgeweer te skiet, lyk baie makliker. Art self is ’n uitstekende skut met koeël- of haelgeweer.

Ons het baie eiers gevind en Pa en ’n paar ander het groot klompe eiers gevind, honderde van hulle blykbaar deur Eskimo’s wat die eilande vroeër in die seisoen besoek het, versamel en daar neergesit om later gehaal te word. Hulle was in ’n gat gebêre met klippe daar omheen gepak en die skeure met mos toegestop, sodat hulle uitstekend goed beskut was. Hulle het ook die kopbeen van ’n ysbeer gevind.

By drie van die eiers wat ons gevind het, het die klein eendjies net uitgekom. Ons het hulle saamgevat na die skip. Een het ek onder ’n eendewyfie gesit wat ek lewendig in ’n Eskimo-strik gevind het, en die ander twee agter die stoof in die kombuis waar dit lekker warm was. Twee van hulle het ’n taamlike ruk gelewe, maar later het ons hulle op ’n pynlose manier doodgemaak en hulle gebêre as eksemplare vir die museum. Ons het ook ’n paar neste vir die museum saamgevat, en ek het een vir my versameling gekry.

HOOFSTUK VI

DWARSOOR MELVILLE-BAAI

Teen die twintigste Julie was ons amper oor Melville-Baai. Dit was op die kop ’n maand na ons vertrek van die huis, wat uitstekend goed was. Ons was natuurlik baie gelukkig dat ons die hele tyd nooit regtig moeite met die ys gehad het nie.

Gewoonlik is Melville-Baai omtrent die gevaarlikste en moeilikste deel van die reis noordwaarts. In baie gevalle duur dit weke eer mens daar deurkom, en partykeer is dit eenvoudig onmoontlik om deur te kom. Dr. Rasmussen het my later vertel dat hy al terwyl hy probeer het om deur te kom, ses volle weke rondgedryf het, daar sy skip vasgevries was in die pakys. En dit in die middel van die somer.

Na ons vertrek van Eende-Eiland was ek ’n hele ruk besig om die goed vir handel en vir presente reg te maak. Ons sou natuurlik nie veel handel dryf nie, net vir goed wat ons persoonlik wou hê. Die meeste goed was bedoel om die mense te betaal wat ons op jag, en by die versameling van eksemplare sou help. Een van my lekker werkies was om blikke met skroefdeksels vol te maak met lekkers en suiker. Ons het ook woloorhemde en jersies met skitterende kleure wat mnr. Alex Taylor van Rye aan die ekspediesie geskenk het, uitgesoek. (Ek mag sê dat ons hele bemanning nou mnr. Alex Taylor se woloorhemde gebruik en dat ons hulle nuttig vind).

In die aand van 20 Julie het ons by Kaap-York aangekom. Dit is ’n groot kaap wat die noordelikste punt van Melville-Baai uitmaak en eintlik die begin is van die verre Noord-Groenland. Die mense wat daar en nog meer noordelik woon, maak deel uit van die Eskimo-stam van Smith-Sond en woon nader aan die Noordpool as enige ander volk. Omtrent op hierdie breedtegraad is ’n mens verder noord as die noordelikste deel van die vasteland van Noord-Amerika, Europa of Asië. Ons het dus besef dat ons begin het om regtig ver noord te kom.

Die kaap self is ’n hoë berg wat so-te-sê direk in die see uitloop. Party van die hange is heeltemal rooi, en die sneeu is ook karmosynkleurig weens ’n soort stof wat dit skynbaar bedek. Hierdie deel word die Karmosyn-Rotse genoem en feitlik elke Noordpool-ekspediesie maak melding van hulle en beskryf hulle. Agterom die kaap is ’n groot gletser wat direk in die water afbreek, en dit is baie gerieflik. Kapt. Bob het die skip tot reg teenaan die ysmuur gebring en ’n paar man het van die boegspriet op die gletser gespring en die skip met toue vasgemaak, sodat hy daar teenaan kon lê asof die ys ’n kaai was. Natuurlik was daar g’n wind nie en die see was heeltemal stil.

Toe vat hulle ’n slang en gaan daarmee ’n end op en sit die punt in een van die baie stroompies wat van die top van die gletser afloop, alles gesmelte sneeu. Die skuinste was genoeg om die water in ons groot waterbak op dek te laat afloop. Die matrose het ook die vaatjies met behulp van emmers volgemaak. Dit was ’n uitstekende plan om ’n hele voorraad egte yswater te kry.

Terwyl ons daarmee besig was, het ’n paar Eskimo’s in hulle kajaks aangekom. Ons het vir ’n koeëlgeweer en ’n klompie ammuniesie ’n pragtige kajak van hulle gehandel. Die volgende dag, toe ons aan land gaan, sien ons dat die eienaar van daardie kajak al goed op weg was met die maak van ’n nuwe. Hy het dus met sy uitstekende geweer goeie vooruitsigte gehad vir die jag. Ek hoop dit van harte, want ’n kajak is vir ’n Eskimo omtrent die vernaamste lewensbehoefte. Waarskynlik is ’n geweer die volgende. Dit is veral waar as ons dit vergelyk met ’n outo wat vir ons tog maar ’n weeldeartiekel is, waarsonder ons maklik kan klaar-kom.

’n Kort end van die klein nedersetting by Kaap-York is daar ’n „voëlberg”. So noem hulle die plekke waar ’n mens „dookies”, ’n klein soort auks [4] vind. Hulle is klein voëls wat teen berge hou waar mens talus-hellinge aantref—dit wil sê lang afdraandes met los rotse wat opmekaar gestapel is. Hulle maak hulle neste in die holtes en skeure waar hulle moeilik is om te vind.

’n Eskimo het saam met ons in die skuit na hierdie „voëlberg” gery. Ons het teen die helling uitgeklim tot by ’n plek wat hulle gereeld gebruik en waar hulle van los klippe ’n ruwe skerm gemaak het. Hy het ’n net aan ’n lang stok saamgevat. Ons het teen die helling gaan sit, gedeeltelik bedek deur die skerm. Toe vlieg die voëls verby, altyd in dieselfde rigting. Dit lyk of hulle gedurig aan die gang was, of hulle opvlieg van die rotse, ’n wye draai oor die see maak en dan weer terugkom. Daar was duisende van hulle.

As ’n voël by ons verbyvlieg, amper so naby dat mens hom kon aanraak, maak die Eskimo ’n vinnige swaai met sy net en pardoems,—daar lê een van die voëls in die net. Hy trek gou die net terug, haal die voël uit en maak hom dood, en hy is weer gereed. Dit is hoofsaaklik die werk van die vrouens wat baie bedrewe daarin is en honderde (waarskynlik duisende) van hulle vang. Hulle is heerlik om te eet, en die velle word gebruik om veer-klere te maak vir ’n voering wat teen die lyf gedra word.

Nadat ons Eskimo-vriend ons gewys het hoe om dit te doen, het ek ook probeer. Dit het baie maklik gelyk. Maar dit was nie die geval nie. Ek het baiemaal misgevang.

Pa en Dan Streeter het gestaan en kyk en kiekies geneem, en hulle het vir my gelag as ek so’n swaai maak sonder om iets te vang.

„Drie kanse en jy is uit!” roep hulle toe ek vir die derde keer misvang.

Maar na ’n ruk het ek darem ’n paar gevang, en ’n paar het ek met die stok raakgeslaan sodat hulle half bedwelmd was en ons hulle kon kry. Pa en Dan het ook probeer, maar hulle het ook g’n rekords geslaan nie. ’n Kêrel met ’n goeie oog vir krieket soos Babe Ruth behoort by soiets uit te blink. Dit was in alle geval groot pret, en natuurlik was dit die eerste keer dat ek probeer het om voëls met ’n net te vang. Wat baie snaaks is, is dat ek die volgende dag werklik met ’n strik ’n paar gevang het.