Part 7
Ons het gedurig opgelet, maar het niks meer gesien nie. Ons het nou ooswaarts geseil, al langs die kant van groot plate dryfys, dit wil sê drywende skolle waarvan sommige maar net ’n paar tree in die vierkant was, terwyl ander weer honderd voet of meer was, of bestaan het uit ’n aantal skolle wat deur nuwe ys aanmekaar vasgevries was. Mens kon amper die nuwe ys sien ontstaan. Die termometer het omtrent op 25 graad of minder gestaan. Klein kristalle het in die stil water saamgesmelt en ’n dun laag gomelastiekagtige ys gevorm. As die skip so deur die ys gaan, het die oppervlakte taamlik vas aanmekaar gehou. As die boeg kabbelings veroorsaak, dan wiegel die ys so, en ’n taamlike drukking was nodig om dit regtig te breek.
Dit was omtrent vieruur in die oggend, en ek wou net gaan inkruip, want ek het koud gekry. Maar dit was die moeite werd om op te bly, want ek glo nie ek het al ooit iets gesien wat so mooi is soos die lig op die ys en die stil grys water, en die met sneeu bedekte berge en donker rotse en wit gletsers aan weerskante van die sond nie.
Dan was nog besig om sy walruskop skoon te maak. Pa was by die boeg, Ralph by die wiel en Jim op die uitkyk.
„Beer! Beer!” roep Ralph skielik met sagte stem.
Jim gee die teken om die motor aan te hou, en dadelik kom die kaptein boontoe wat onder ’n bietje gelê en slaap het nadat hy vier-en-twintig uur wakker gewees het.
Vanwaar ons was, kon mens niks meer van die beer sien nie as ’n klein gelerige kol daar ver, anderkant ’n groot ysskol. Ek het orders gekry om boontoe te klim en hom dop te hou, en te skreeu as hy in die water gaan. As ’n beer in die water is, is dit taamlik maklik om hom te vang, want hy swem nie te vinnig daarvoor nie. Maar as hy eers die land bereik, het hy ’n goeie kans om weg te kom. Kapt. Bob was bang dat hy na die een kant oor die ysskol sou gaan, terwyl ons die ander kant omseil.
Die Morrissey het in alle geval om die ysskol geseil en het stilletjies tot omtrent dertig tree van hom genader. Die beer hou sy neus hoog in die lug en kom toe na die skip se kant toe en spring pragtig oor ’n strook nuwe ys. Dit het gelyk of hy niks bang was nie, maar net belang gestel het in die snaakse, nuwe ontsaglike dier wat hom kom hinder het.
Kapt. Bob wou seker maak dat ons die eerste beer kry, dus het hy ’n paar man gelyk laat skiet. Die geweers van Pa, Dan en Dok het gelyk afgegaan, en later het ons gesien dat elke skoot raak was en dat blykbaar elkeen ’n doodskoot was.
Jim en Ralph spring van die boegspriet op die ys en maak ’n tou om die dooie beer vas. Hulle hys hom toe aan boord en bring hom na die voorpart van die dek, want die orige het vol gelê van die vleis, velle en koppe van die walrusse. Teen die tyd het die skip net morsig gelyk en baie nes ’n slaghuis. Maar daar die barometer aan dale was en dit gevoel het of ons sneeu kon verwag, het al die manskappe dadelik aan die werk gegaan en tot brekfistyd aangehou. Toe was alles so taamlik agtermekaar.
Ek moet sê dat ons nou ’n wonderlike verskeidenheid van vleis gehad het. Aan die takelwerk het harte en vleis van walrusse en beervleis gehang, en aan die hooftoue auks en murres [8]; dan was daar nog die heerlike vleis van seehonde. Die volgende dag middag het ons seehond-vleis geëet wat nie te gaar gekook was nie, en dit was regtig lekker. Ons het dus vir ’n tydjie lekker vleis gehad om te eet.
Billy het dadelik ook vir Pa en Rasmussen ’n paar bottels beerolie uitgebraai. Dit is uitstekend vir skoene en ander leerwerk.
Terwyl ek nou van bere praat, moet ek nog vertel dat ek nou twee volledige uitrustings van Eskimoklere het. Die noordelike drag sluit nanoekies of ’n beervelbroek in. Nette het hulle aan boord gemaak van ’n stuk van ’n vel wat dr. Rasmussen vir Pa gegee het. Toe ons in Karna oorgebly het, het die Eskimo-vrouens die vel met hul tande gebrei totdat dit heeltemal sag was en maklik om te bewerk. Dan het ek nog stewels van seehond-vel met die bont van konyntjies aan die binnekant en ’n netsja of baadjie met ’n hoofdeksel daaraan. Hierdie noordelike uitrusting is besonder warm en lekker om te dra.
Hierdie beer van ons, sê hulle, was vier jaar oud. Hy was sewe voet vier duim lank, en hulle het sy gewig op byna ses honderd pond geskat. Later het Fred die vel en die kop bewerk sodat dit kon saamgevat en ’n vloermat daarvan gemaak word. Ek het die kopbeen skoongemaak, en dit was net moeilik om al die vleis daarvan af te kry.
So het ’n regtig heerlike dag op ’n taamlik opwindende manier geëindig. Ons was net oor een ding spyt, naamlik dat dit so vroeg in die oggend—of liewer so laat in die nag—te donker was om kiekies van die beer te neem. Ons het in alle geval binne omtrent agt ure ’n walrus en ’n gebaarde seehond gekry en, beste van alles, „Nanoek”, die beer.
Die grappigste van die hele spul was dat Pa net die nag vantevore ’n radiogram aan Ma gestuur het dat ons hoop om spoedig ’n ysbeer op een van die ysblokke te kry en dat die vel bestem was vir ’n vloermat vir my broertjie June waarop hy in die winter voor die vuur kon speel.
Ons kry toe so kort daarna die beer en die vloermat vir klein June.
HOOFSTUK XIV
BY POND-BAAI
Op die agt-en-twintigste Augustus het ons eindelik, nadat ons lank deur ’n digte mis geseil het, op ’n kort afstand land gewaar. Vir die laaste paar dae het ons al langs die kus van Devon-Eiland en Bylot-Eiland afgeseil om by Pond-Baai te kom waar daar ’n pos was van die Noordwestelike Beredepoliesiemag en ’n stasie van die Hudson-Baai-Maatskappy.
Kapt. Bob was al die tyd nie in staat om land te sien of waarnemings te maak nie, maar deur middel van ruwe berekening was ons omtrent seker dat ons die suidelike deel van Pond-Baai bereik het.
Soos julle seker weet, beteken „ruwe berekening” dat mens uitvind waar jy is deur te sien hoeveel myle die skip volgens die log afgelê het. Die log is ’n klein instrument soos ’n klein skeepskroef wat by die agterstewe aan ’n lang tou afgelaat word; dit draai vinnig of stadig volgens die snelheid waarmee die skip vaar, en die getal omwentelinge word aangeteken, waardeur die getal knope of seemyle wat die skip afgelê het, aangewys word.
Terwyl ons so in die mis rondgedryf het, so ver van die hoë land dat ons dit nouliks kon sien as dit deur die mis sigbaar word, het Pa en dr. Rasmussen in ’n skuitjie uitgeroei om murres en klein auks te gaan skiet. In heeltemal ’n kort tyd het Pa een-en-vyftig van hulle geskiet en daardeur verskillende maaltye vir die bemanning verskaf.
Later het ons die platboom-skuit met die Johnson-motor daaraan, neergelaat. So was dit net ’n nuttige boot om mee vooruit te gaan en uit te vind hoe diep die water was. Een van die matrose gaan sit toe daarin en gebruik die peillood en roep dan uit wat die diepte van die water was.
Nadat ons vir ’n paar myl ons pad so-te-sê gevoel het, hou ons na aan die kus stil op ’n plek waar ’n stroompie teenaan ’n gletser uitkom. Ons het nog maar ’n paar gellings in die groot waterbak gehad, en amper al die vate was leeg. Terwyl die bemanning besig was om die vate aan land te bring en hulle vol te maak, het Bob Peary, Ed Manley en ek in die mis gaan roei om seehonde te soek. Ons het in die loop van die dag heelparty gesien. Natuurlik het ons die land nie uit die oog verloor nie, maar al langs die kus gehou om die terugweg te kan vind. Mens kon net omtrent honderd tree ver sien.
Ons het na ’n paar seehonde geskiet, maar dit was mis. Dit is taamlik moeilik om hulle in die water te skiet. Hulle kom net vir ’n minuut, soms net ’n paar sekondes, op, beskou jou as jy naby is en duik weer weg. Ons was net agter een aan wat taamlik lank bo water gebly het, toe ons die mishoring van die Morrissey hoor blaas. Dit was die teken vir ons om terug te kom.
’n Rukkie later het ons aan wal gegaan en teen die hang van ’n rotsagtige heuwel die graf van ’n walvisjagter gesien. Hy was harpoenier op ’n beroemde walvisvaarder, die Diana van Dundee in Skotland, en is in 1903 daar begrawe. Die graftes van ’n paar ander walvisjagters in die nabyheid was oor die honderd jaar oud; want toe het baie van hulle al daar gekom. Aan my is vertel dat daar partymaal ’n paar duisend manne in een seisoen in hierdie streek gejag het, en dat party skepe die winter in klein hawens langs die kus deurgebring het. Nou is die walvisse amper uitgeroei, en die walvisvaarders is gevolglik buite werking gestel.
In die loop van die dag het mis opgeklaar en het ons Albert-Hawe binnegeseil; dit was een van die ou kwartiere van die walvisvaarders. Aan alkante is daar hoë rotse, sodat dit besonder goed beskut is, en die water is daar baie diep. In die ou dae het hulle die skepe tot teenaan die skuinstes aan die voet van die rotse gebring om ballas te laai.
Toe seil ons verder in die baai wat feitlik ’n wye sond is, amper twaalf myl wyd, tot by die plek waar die Hudson-Baai-Maatskappy (H. B. C) hulle stasie het. Net naasaan hierdie stasie is die afdeling van die „Royal Canadian” Beredepoliesie. Die poliesie het barakke en ’n pakhuis en die H. B. C. meer of min dieselfde. Dan staan daar al langs die strand ’n dosyn klein pondokkies en sooihuise waar die Eskimo’s woon. Maar die meeste Eskimo’s van hierdie streek woon ver van die stasie in dorpe waar meer kans is om te jag.
Daar was ses Europeane, drie van die poliesie en drie van die H. B. C. Maurice Timbury was die hoof van die poliesie en George Dumo die agent van die H. B. C. Hulle was algar baie gaaf teenoor ons en het vir ons ’n baie aangename tyd verskaf. Ons het ’n dinee met die poliesie gehad en daarna ’n dans in die huis van die H. B. C. Ons het dus ’n woelige tyd gehad en baie pret. ’n Victrola-grammofoon het die musiek verskaf, en die Eskimo’s het ook kom dans. Nettie, die Groenlandse meisie wat ons saamvat na Holsteinsborg was die mooiste meisie op die dans. Sy dans goed, en dr. Rasmussen is ’n uitstekende danser.
Die Eskimo’s hier in Baffin-Land lyk heeltemal anders as die in Groenland. Die vrouens tatoeëer hulle gesigte en dra ’n ander kleredrag. Daar by die stasie waar hulle baie Europese klere kan kry, sien mens nie meer veel van hulle oorspronklike drag nie. Ek glo ook nie dat soveel „winkel”-kos juis baie goed vir hulle is nie. In alle geval het die spul wat ek daar gesien het, maar tingerig en pap gelyk in vergelyking met die pragtige fris kêrels waarmee ons aan die ander kant van Baffin-Baai in aanraking gekom het. Hulle kajaks lyk groter en wyer as die van die Groenlandse Eskimo’s.
Die vleis van die walrus wat ons in Jones-Sond doodgemaak het, het ons saamgebring na Pond-Baai en onder die Eskimo’s uitgedeel. Hulle was blykbaar baie bly, want dit is ’n uitstekende hondevoer, en mens kry daar nie meer walrusse nie. As terugbetaling vir ons presente het ’n paar vrouens aan boord gekom en die vleis afgeskrap van die walrus- en seehondvelle wat ons nog nie klaar gemaak het nie. Daarna is hulle gesout, in vate gepak en toegemaak om na die museum te gaan. Dit was ’n verskriklike werk om al die vetterigheid van die dek af te kry, en vir ’n hele paar dae was dit so glyerig soos ’n skaatsbaan.
Ons het na ’n paar winterhuise van die Eskimo’s (of ighloes van klip) omtrent ’n myl van die stasie gegaan. Hulle is baie oud, en is eeue gelede deur ’n stam bewoon; maar dit was so lank gelede dat die teenswoordige Eskimo’s niks van hulle afweet nie en glo dat hulle van heeltemal ’n ander ras was. Dr. Rasmussen beweer dat volgens die voorwerpe wat in hierdie ou dorpie gevind is, vergeleke met ander wat alreeds bestudeer is, die mense waarskynlik omtrent duisend jaar gelede daar gewoon het, en op ander plekke miskien nog vroeër, omtrent die tyd toe die eerste Noormanne na Groenland gekom het in die jaar een duisend en later.
Hierdie ou klip-ighloes van die Eskimo’s is sirkelvormig gebou meestal met ’n deursnee vyftien voet of meer. Daar is ’n klein buitekamer wat as voorportaal diens doen en bedoel is om die binnevertrek warm te hou. Dit is so laag dat hulle bepaald op hande-vier-voet moes inkruip. Nadat mens ingekruip het, kom mens by ’n trappie wat na die binnevertrek lei. Hierdie vertrek dink ek was omtrent vyf voet hoog met ’n verhoog rondom, ’n paar voet hoër as die middelste gedeelte wat ’n klein vierkant vorm.
In een hoek van die verhoog, gewoonlik naby die deur, het hulle kos gekook. Die platform agter is as slaapplek gebruik en is mooi netjies met plat klippe opgemessel. Die mure bestaan uit klip, sooie en walvisbene. Die dak is van plat klippe en been. Op ’n paar plekke lyk dit of die ribbebene van walvisse gebruik is as balke om die mure te stut en miskien die blafon. Die huisies moet regtig warm en sterk gewees het. Ek het vergeet om te sê dat hulle eintlik gedeeltelik onder die grond is, daar die vloer gewoonlik ’n paar voet laer is as die grond buite.
Ons het rondom die huise en by ’n paar van die ou graftes gegrawe. En die volgende dag het ek en Pa en Dan saam met mnr. Gale en sy assistent, Abraham Ford van Labrador, in hulle motorboot twaalf myl die baai opgevaar na ’n paar ander ou huise.
Ons het ’n paar mooi voorwerpe gevind soos speerpunte en sneeumesse van been en ivoor gemaak, harpoenstele en ’n klein kom uit been uitgesny. Later het Pa nog van die Europeane voorwerpe gekry wat hulle versamel het, sodat ons op die ou end net ’n mooi versameling van interessante voorwerpe gehad het. En baie van hulle was werklik uit die steentydperk van hierdie volk afkomstig, toe hulle nog amper alles wat hulle gehad het van klip gemaak het, soos b.v. pylpunte van vuurklip of van been of ivoor.
Dit is verbasend om te dink dat hulle met hierdie primitiewe selfgemaakte wapens tot yslike spermaseti-walvisse kon doodmaak. En tog moet hulle dit gedoen het, want om hulle huise lê die bene rondgestrooi. En in die ou tyd het hierdie dele van die oseaan seker gekrioel van die walvisse, walrusse, seehonde en narwalle.
Timbury en die ander twee konstabels, Murray en Dunn, het daardie agtermiddag met ons uitgegaan om sneeuhase te skiet. Ons het een gesien, maar kon nie naby genoeg kom nie, want een van die honde het ons gevolg en elke slag die haas geja net as ons hom in die oog kry. Ed het op ’n klein meer omtrent twee myl van die dorpie ’n eend geskiet en ek twee. Ons het nie geweet hoe ons moet maak om hulle te kry nie. Eindelik het Ed sy klere uitgetrek en tot onder sy arms die yskoue water ingegaan en hulle gehaal.
Tussen hakies, hier by Pond-Baai is die noordelikste draadlose stasie in die wêreld. Die poliesie en die H. B. C. het elk ’n draadlose ontvang-toestel vir kort golwe, en die poliesie het buitendien ’n uitsaai-stasie; maar ek glo nie dat dit te goed werk nie. Dit was interessant om in mnr. Galle se huis ons ou vriende, die Eveready-batterye te sien, die enigste wat hy gebruik. Pa het met hulle afgespreek om later in November op die Eveready-uur ’n spesiale program te hê as hulle dit kon regkry, al was dit ook maar vir ’n paar minute. Dit wil sê hy wou dit so laat reël dat ’n deel van die program in New-York so uitgesaai sou word dat hulle dit by Pond-Baai kon opvang en hulle Pa uit New-York met hulle kon hoor praat.
Toe ons die dorpie verlaat, was dit so winderig en ru dat ons weer by Albert-Hawe oorgebly het. Art en Ed en ek het na die steil rotsagtige eiland gegaan om hase te soek. Ons het die eerste heuwel beklim en daar baie spore gesien, maar g’n hase nie.
„Daar is een!” skreeu Art skielik, „daar by die groot rots. Dawid kruip jy stilletjies agter daardie klipstapel, dan bly ek en Ed hier en trek sy aandag.”
Ek kruip toe soetjies na die kant van die heuwel en toe die haas my nie meer kon sien nie, hardloop ek so al wat ek kan, maar loop teen die end weer stadiger en loer toe versigtig bo-oor. Daar sit die haas omtrent sestig tree van my af en kyk na Art en Ed.
Ek korrel toe haastig en skiet, en die haas slaan op die plek neer. Die twee-en-twintig patroontjie het mooi by sy skouer ingegaan, deur sy hart en anderkant weer uit. Ons sien toe dat sy rug lig-grys was en dat hy baie groter was as die Amerikaanse konyne. Ek verstaan dat hulle in die winter spierwit word.
’n Ander een het ons hot en haar geja en amper verloor. Per geluk het ek van die ander afgedraai, en daar sien ek ’n hele end weg sy ore uitsteek. Ek fluit toe om hom te laat opstaan; maar toe hy dit doen, skiet ek hom mis, en hy begin te hardloop. Ek skiet toe na hom in die hardloop en met ’n gelukskoot kry ek hom deur sy heupe en sy rugstring. Hy was groter as die eerste en spierwit.
Ons het nog ’n paar ander probeer skiet, maar sonder sukses. Toe ons weer by die skip kom, was dit al omtrent tienuur en amper donker. Hier by Pond-Baai het ons vir die eerste maal weer begin om regtig nag te kry. Die son gaan onder, en dan is dit vir ’n paar uur donker.
Ek het Pa gevra om vir Ma ’n radiogram te stuur en te sê dat ek besig was om ’n paar pragtige velle van sneeuhase vir haar te brei waarvan sy dan ’n kraag of soiets kon maak. En Fred wys vir my hoe om poeierkwassies van die stertjies te maak.
HOOFSTUK XV
NOG MEER BERE
Teen die twede September was ons op pad, al langs die ooskus van Baffin-Eiland af met die bedoeling om Baffin-Baai oor te steek na Holsteinsborg om Hobbs se geselskap op te laai. Daar was g’n ys om van te praat nie, net ’n paar verstrooide ysberge, en die weer het taamlik lekker sonnig en heeltemal warm gebly wat baie buitegewoon was vir die tyd van die jaar.
Presies om sewe-uur in die oggend maak Pa my wakker en sê daar was drie bere op ’n klein ysberg naby ons. Ralph en Jim, dieselfde wag wat die eerste beer ontdek het, het hulle gewaar. Alle manskappe het op dek verskyn om die pret nie mis te loop nie.
Carl het sy tou reggesit terwyl Art sy pyl en boog uitgehaal het vir die jag. Geen geweers sou gebruik word nie. Pa wou hê dat uitsluitlik die boog en die tou sou gebruik word, om lewende beelde te maak. Keilerman het sy twee toestelle vir die lewende beelde op dek gehad, en verskillende van die ander spul het hulle gewone kamers gereed gehou. Bob Peary het ook ’n klein kamera vir levende beelde gehad, maar hy was op diens by die motor, dus het ek dit so goed as ek kon vir hom bewerk.
Die Morrissey het tot heeltemal naby die ysberg gegaan, en ons het ’n klompie mooi portrette geneem. Dit was ’n groot beerwyfie met twee jonges wat, soos hulle vir my vertel het, in Februarie gebore is. Hulle was taamlik groot en fris en het waarskynlik albei oor 150 pond geweeg. Dit was darem snaaks om die beer hier buite in die water te sien, omtrent twintig myl van die land. Maar later het dr. Rasmussen ons vertel dat hulle dikwels honderde myle ver gaan, en dit amper die hele tyd in die water. Dit lyk of swem vir hulle omtrent net so maklik is as loop. Toe ons naby kom, loop die ou beer reguit na die waterkant, en die jonges agterna. Ons draai toe weg van die ysberg en gaan om na die windkant om hulle gerus te stel. Hulle was skynbaar daarmee tevrede. Miskien het hulle gedink dat die skip maar net ’n groot, vuil blok ys was.
Hulle het in alle geval weer terug geklim en gaan lê. Die twee jonges het by die moeder gaan lê, en toe Harry deur die verkyker kyk, sê hy hy kon sien dat hulle hul ontbyt gebruik.
Toe ons weer naby kom om vir Art ’n kans te gee met die pyl en boog, word die ou beer regtig onrustig en staan weer water se kant toe. Hulle swem toe in ’n streep weg, en lyk kompleet soos drie klompe botter, eers die ma en dan die jonges agterna. Hulle is nie regtig wit nie, maar effens gelerig, amper botterkleurig, veral as net hulle koppe bo die water uitsteek. Hulle swart neuse en hulle oë wys die meeste.
Ons het met die Morrissey twee- of driemaal binne dertig voet van hulle gekom en portrette geneem. Elke slag draai die beer-wyfie om en knor vir ons en brom vir haar kleintjies dat hulle moet aanstoot om weg te kom van die eienaardige gedierte wat hulle agtervolg.
Ons wou hulle weer by die ysberg kry as dit moontlik was; daarom het ons ’n platboom-skuit neergelaat met Carl daarin, geroei deur Ralph en Joe wat moes probeer om hulle terug te ja na die ys. Verskillende male het dit hulle met moeite geluk om die bere in die rigting van die ysberg te kry, maar hulle het ten enemale geweier om weer daarop te klim. Dit was ’n komieklike spelletjie om te aanskou.
In die tussentyd was Jim aan boord besig om ’n ruwe hok vir die jonges te maak, want Pa het besluit, as dit kon wees, om hulle lewendig te vang en hulle na die Bronx-Dieretuin by New-York te bring. Eers wou hulle my toelaat om een te skiet, daar ek regtig begerig was om heeltemal alleen ’n beer dood te maak. Maar ek het saamgestem dat dit baie beter sou wees om hulle lewendig te vang as dit moontlik was. Dit is regtig ’n snaakse toeval dat kapt. Bob in 1910 naby dieselfde plek die yslike ysbeer „Silver King” gevang het wat van die tyd in die dieretuin was. Hy is verlede jaar dood.
Art het op die boegspriet geklim met sy boog en pyle en ’n vyl waarmee hy die groot twee-duims staalpunte van die pyle nog ’n slag goed wou skerp maak.