Part 5
Daardie agtermiddag het dr. Rasmussen berig gekry dat daar siekte was in ’n klein dorpie met die naam van Aupilagtok wat net ’n paar myl van die plek waar die Morrissey was geleë was. Die ander het teruggegaan na die Morrissey, terwyl Dok en ek saam met dr. Rasmussen na die dorpie gegaan het, nadat ons hulle versoek het om ons daar te kom haal. Ons het met haar skuitjie gegaan wat in Denemarke gemaak is. Dit is baie sterkgebou en ploeg ewe maklik deur die ys asof daar nie soiets was nie.
Daar was in Aupilagtok ’n klein winkeltjie in ’n klein kamer wat teen die huis van die hoofman gebou was. Sy naam was Imik en later het hy Pa op ’n driedaagse tog na die gletsers en die groot gletserveld begelei. In die winkel het hulle lood vir koeëls wat hulle in primitiewe vorms gegiet het, ook doppies en kruit. Hulle geweers skiet met koeël en koeëlpatrone en hulle maak alle ammuniesie self. Hier het die Eskimo’s geld waarvoor hulle beskuit, suiker, twak en ander dinge koop. Hierdie artiekels word met ’n snaakse skaaltjie geweeg met twee ou koper-skarniere as gewigte.
Na ’n ruk het Pa en ’n paar ander met ons motorskuit aangekom en ons het algar teruggegaan na die Morrissey, dwarsdeur ’n hele spul ys. Meestal het dr. Rasmussen se skuit, die Mitik, wat baie breed is vooruit deur die ys geploeg en ons s’n het gevolg.
Toe ons by die Morrissey aankom, wou die kaptein ontslae raak van ’n paar van ons om dit makliker te maak vir Billy, die kok, wat ook vir die hele trop Eskimo’s moes sorg. Buitendien was hulle besig om die ballas te verskuif en alles klaar te maak om die skip op sy sy oor te kantel. Gevolglik moes hulle alle vure doodmaak en op die strand boer. Dr. Rasmussen het ons dokter, Harry Raven en my genooi om saam met haar na Upernivik te gaan, en ons het die uitnodiging aangeneem.
Ons het in haar boot teruggegaan na Upernivik en omtrent vieruur in die oggend daar aangekom. Dit was natuurlik helder dag en die son het geskyn; want ons was die hele tyd gelukkig om heerlike weer te hê, terwyl dit ook taamlik warm was. Ek meen die temperatuur was op sy warmste sowat sestig graad en op sy koudste nooit onder veertig nie.
Gedurende die middagete om twee-uur die agtermiddag het ons weer ’n groot geskreeu van die Eskimo’s gehoor.
„Demiaksoa!” het hulle geskreeu. Dit is hulle woord vir „skip”. (Ek het die woord gespel soos dit vir my geklink het.)
Tot ons groot verbasing sien ons ’n oorlogskip die hawe binnekom. Dit blyk toe die Islands Falk (dit beteken Ysland-Valk), die Deense patrollie-skip te wees. Onder in Suid-Groenland het hulle deur middel van hulle radio-toestel van ons moeilikheid gehoor en het daar en dan noordwaarts vertrek om ons te kom help. Die eerste draadlose berig wat deur ’n Amerikaanse skip aan hulle oorgesein is, het gesê dat die Morrissey heeltemaal vergaan was, en dat ons algar op die kus was. Waarom juis so’n berig gestuur is, kon ons nie begryp nie, daar ons natuurlik niks van die aard laat weet het nie.
In elk geval het kapt. West van die Valk later ’n ander berig ontvang van die Kanadese skip Boethic wat aan die Kanadese kant was. Die Boethic het ’n draadlose onderhoud met ons gehad en het kapt. West met die ware feite bekendgestel, naamlik dat ons op weg was na Upernivik om ons skip te herstel. Die Valk het dus na Upernivik gekom om ons te help.
Ek het ’n klein skuit gekry en uitgeroei na die oorlogskip en aan boord gegaan. Tot my groot verbasing is ek begroet deur dr. Knud Rasmussen wat in die Valk opgekom het van Disko waar ons hom sou ontmoet het. Maar sy skip van Denemarke was baie vertraag en hy kon dus nie daar by ons aansluit nie. Ek het hom vertel wat ons oorgekom het.
Kapt. West, kommandeur Riis-Carstensen, dr. Rasmussen en ’n paar ander gaan toe na die Morrissey en bied hulle hulp aan. Op die end het hulle ’n gawe klomp manne soontoe gestuur met ’n duiker en bote en alles. Die duiker het omtrent ses dae gewerk, terwyl die Deense offisiere en matrose op die skip geslaap het en aan land uitgekamp het. Dit blyk toe dat dit met behulp van die duiker moontlik was om die lekplekke meer of min toe te stop. Maar ek is seker dat ons sonder sy hulp in ’n taamlik benarde toestand sou gewees het. Die groot moeilikheid was om die beskadigde plek te bereik wat heeltemal onder aan die skip was. En op die plek waarheen hulle ons gestuur het om die skip op die strand te bring, was die gety nie sterk genoeg om die kiel heeltemal uit die water te kry nie.
Ons was regtig dankbaar vir alles wat die Deense amptenare vir ons gedoen het. Niemand kon gawer en edelmoediger teenoor ons gewees het nie. En ek het nog nooit ’n gawer klomp manne teëgekom nie. Dit was vir my groot pret om op die skip en in die dorp met hulle rond te gaan. Die meeste van die sestig man aan boord het van alle dele van Denemarke gekom en was juis besig om hulle verpligte jaar op see uit te dien. In Denemarke moet elke man een jaar in die land- of seemag diens doen. En ek dink hulle hou algar daarvan om hierdie reis na Groenland te maak, omdat dit so ’n verandering is.
Terwyl hulle aan die skip besig was, het Dok, Harry en ek na Upernivik getrek. Pa het drie mans na die gletser geneem waar hulle portrette geneem het en eksemplare van voëls versamel het.
Dit was ’n woelige tyd vir Upernivik, waarskynlik die lewendigste wat hulle nog ooit gehad het. Want behalwe die Morrissey was die Valk daar met sestig man wat meestal aan land was. Daar was elke aand ’n dans in ’n groot pakhuis naby die skeepswerf, wat gewoonlik tot die oggend aangehou het. Dit was in kort nooit nag nie. As in die somer ’n skip na een van die afgeleë dorpe kom, vergeet die mense heeltemal om te slaap. Algar bly die hele tyd wakker. Vir die manskappe van die skepe is dit eintlik vermoeiend, want die dorpsmense kan tenminste slaap as die skip vertrek, terwyl die manne aan boord dan eers regtig begin werk.
Die kerk van Upernivik is die noordelikste in die wêreld. Die nuwe gebou is toe net klaargemaak en die Sondag toe ons daar was, ingewy. Daar was ’n menigte mense, en die Goewerneur het sy pluiskeil opgehad en wat daarby behoort. Ons het natuurlik algar soontoe gegaan, ook na ’n Eskimo-bruilof in die agtermiddag. Die gesange en ’n lang preek was algar in die Eskimo-taal. Die eerste kerk in Upernivik is reeds in 1780 gebou.
In die aand van 10 Augustus het die Morrissey teruggekom na die hawe. Die duiker het die skip pragtig reggemaak. Kapt. West het aan kapt. Bartlett ’n brief gegee wat getuig dat die Morrissey weer heeltemal seewaardig was. Ons was dus gelukkig, want dit het beteken dat ons ons reis wat so amper noodlottig was, kon voortsit. Ons het besluit om weer noordwaarts te gaan en Knud Rasmussen na Thule te bring.
Die aand voor ons vertrek het hulle vir ons in Goewerneur Otto se huis ’n groot geselligheid gegee. Alle luike is toegemaak om dit donker te maak en toe, om dit geselliger te maak, het hulle ’n menigte kerse opgesteek. Agtien mense het in die klein eetkamer ingedruk. Daar is toesprake gehou, en dit was net ’n lekker affêre. Ek het taamlik vroeg ingekruip, maar die grootmense, dink ek, het nie voor sewe-uur in die oggend gaan slaap nie.
Die laaste aand was daar nog ’n afskeid op die Ysland Valk. Kapt. Bob en Pa was die gaste van kapt. West by ’n dinee. Hulle het al die goed van dr. Rasmussen op die Morrissey gelaai. Hy sou die hele end pad saam met ons gaan, tot by New-York, en het dus ’n hele klomp klere en ander goed gehad.
Toe ons die anker lig en weer op koers gaan, laat ons ons vlag sak en skiet drie skote van ons grootste geweer as ’n saluut. Die Valk antwoord toe met drie skote van sy groot kanonne, en die mense op die land skiet nog ’n saluut met hulle klein kanonnetjie. Dit was heeltemal ’n spoggerige afskeid. Die Goewerneur was in sy groot roeiboot en waai vir ons vaarwel. Upernivik kon ons bepaald nie beter behandel het nie, en ons het dit ten volle waardeer.
En toe draai ons weer noordwaarts met dr. Rasmussen. En ons het ons gelukkig geag dat ons weer op pad was in plaas van suidwaarts te retireer. Ons was nou op die punt om Melville-Baai vir die derde maal oor te steek, wat heeltemal ’n rekord is vir een seisoen.
Dr. Rasmussen het byvoorbeeld al veertig maal oor die baai geseil. Waarskynlik het hy meer in hierdie streke gereis as enige ander lewende man. Hy het my vertel dat dit hom een slag ses weke geneem het om net oor Melville-Baai te kom, daar sy skip in ’n groot massa dryfys vasgevries was en sommer rondgedryf het. Hoe gelukkig was ons dus nie om driemaal oor te kom nie feitlik heeltemal sonder ys.
HOOFSTUK IX
ONS EERSTE NARWAL
Nadat ons Melville-Baai oorgesteek het sonder om by Kaap York aan te gaan, het ons in Thule aangekom. Met die opkom, aan die ander kant van Melville-Baai, het hulle my uit een halt gekul. Dit was een oggend baie vroeg toe ek nog geslaap het, en hulle het my nie wakker gemaak nie.
Toe die bote uitkom om die Morrissey te ontmoet het die manne hulle hoede geswaai om ons te groet. Maar toe hulle nader kom en dr. Rasmussen aan boord sien, begin hulle te skreeu en te juig. Die man wat hulle klein motorboot gedryf het, was so opgewonde, dat hy skoon vergeet om die motor tot stilstand te bring, met die gevolg dat sy boot in volle vaart reguit teen die sy van ons skip loop en so hard stamp dat al die mense in sy boot omval.
Ons het Rasmussen na sy handelstasie gebring nadat hy vyf jaar laaste daar gewees het, en Pa het onderneem om die vosvelle wat hulle gedurende die winter van die Eskimo’s gehandel het, vir hom saam te neem na New-York. Mnr. Rasmussen se bestuurder, wat ook sy neef was, het die belofte gekry om vanjaar te mag teruggaan na Denemarke, nadat hy ses jaar aanmekaar in Thule gewees het. ’n Appel wat Pa vir hom gegee het, toe ons vir die eerste maal daar was, was die eerste wat hy in al die tyd geëet het.
Van Thule het ons ook ’n Eskimo-meisie Nette saamgevat wat haar opleiding as verpleegster begin het en nou na Denemarke teruggaan om haar kursus te voltooi; sy sal by mevr. Rasmussen tuisgaan.
Hans Nielsen is Rasmussen se bestuurder, en hy is natuurlik baie in sy skik oor die geleentheid om weg te kom. Hy het sy eie kajak op die Morrissey gebring om ons met die jag te kan help.
Terwyl ons in Thule was, het Pa, Dan, Bob Peary en ek een oggend vroeg met twee Eskimo’s in die motorboot uitgegaan om te sien of ons seehonde kon kry. Ons het omtrent vyf myl die fjord opgegaan tot aan die voet van die gletser, en het omtrent ses gesien, maar ons kon nie naby genoeg kom om hulle te skiet nie. Ons het ’n paar skote op ’n afstand geskiet, maar het niks gemaak nie.
Toe moes ons teruggaan, want sodra as Nielsen en Nette gereed was, sou ons na Walvis-Sond vertrek. Daardie oggend, terwyl hulle besig was om te pak, het ons voor mnr. Nielsen se huis ’n dansie gehad. Kel het lewende beelde van die geselskap gemaak. Ons het ’n emmer lekkers daar gehad, en toe die omgestuur is, het die Eskimo’s albei hande ingesteek. Maar hierdie gawe noordelike volkie is regtig uiters beleefd en sal nooit iets vat eer hulle genooi word nie. En ek glo nie dat hulle ooit steel nie. Dit was baie interessant om van mnr. Rasmussen te verneem dat die Eskimo-taal g’n vloekwoorde besit nie. Hulle gebruik eenvoudig g’n slegte taal nie. Die ergste wat mens vir ’n man kan sê, is dat hy ’n leuenaar is of ’n slegte jagter.
Ons het van Thule ’n klomp Eskimo’s saamgeneem, waaronder ’n ouerige man wat saam met Peary gegaan het en baie siek was. Hy het aan kapt. Bob gesê: „Ek verlang terug na die dae van Pearyarksjua, toe ons volop kos en klere gehad het.”
Die kaptein het hom natuurlik goed geken en het nog vertel dat hy omtrent die sterkste was van die hele lot Eskimo’s wat hulle gehad het, en ook een van die beste jagters. Sy naam is Aangmalokto. Dr. Heinbecker het vir hom ’n bietjie medisyne gegee en die skipper het hom tee en brood met konfyt gegee, maar hy kon dit nie eers eet nie. Dit was baie treurig.
Thule self lê aan die punt van Noordster-Baai op ’n rotsagtige stuk strand in die vorm van ’n halwermaan. Aan die kant wat naaste aan die oseaan is, is daar aan die een kant ’n groot tafelkop met steil kranse bo wat ondertoe eweredig skuins afloop en talus-hellinge vorm. Dit lyk baie nes ’n mesa of hoogvlakte in die weste van ons land (V. S. A.). Hierdie eienaardige berg se naam is Omoenoeï. Daar is vier raamwerk-geboue, die noordelikste handelstasie in die wêreld. En omtrent ’n myl van daar lê die Eskimo-dorp, bestaande uit ’n aantal verstrooide toepiks, die velhutte waarin hulle in die somer woon, met die kliphutte vir die winter langs die kus in die nabyheid. Ek reken daar woon omtrent veertig mense.
Rasmussen hou hierdie handelstasie sedert 1910 aan die gang. Dit is bedoel om hierdie noordelike Eskimo’s, die Smith-Sond-stam, te help. Hulle is die noordelikste stam in die wêreld. Voor daardie tyd is hulle nooit in die geleentheid gewees om gereeld hulle benodighede te koop of hulle velle van die hand te sit nie, behalwe so nou en daan as walvisvaarders of ontdekkingsreisigers daar gekom het. Voordat Peary omtrent dertig jaar gelede begin het, het hulle g’n geweers of staal of iets dergeliks gehad nie, behalwe wat hulle self gemaak of gevind het. Toe het hulle pylpunte van stukkies meteorsteen gemaak en vuurklip wat hulle opgetel het, gebruik om vuur te maak. Omtrent al hulle wapens en messe was van ivoor gemaak. Die slagtande van ’n walrus is uitstekend daarvoor.
Selfs vandag besit hulle baie min in vergelyking met die armste volk wat ons in die wêreld ken. Maar hulle is gesond en gelukkig en baie goedgeaard en goedhartig. Hulle is natuurlike, uitstekende jagters. Dit is absoluut noodsaaklik as hulle aan die lewe wil bly.
In Thule vorm Rasmussen en die Deense komitee wat met hom die saak dryf, as-’t-ware ’n koninkryk. Pa noem dit ’n verlige diktatorskap, waarby hy bedoel dat Rasmussen feitlik koning is, maar alles vir die beswil van die mense reël. Hulle het hul eie geld, drie soorte muntstukke van verskillende waarde met ’n gaatjie in die middel. Die handelstasie betaal hulle daarmee vir hul bont, en die Eskimo’s gebruik dit weer om goed in die winkel te koop.
Die goedere word baie goedkoop verkoop, en volgens mnr. Rasmussen is die bedoeling om die handelstasie selfbetalend te maak. Soos ek in ’n vorige hoofstuk gesê het, het ons baie goedere van New-York saamgebring. En nou neem ons die vosvelle, die winter se opbrings van die jag, saam terug.
Vroeg in die agtermiddag van 15 Augustus het ons Thule verlaat.
Die volgende oggend, toe ek op dek kom, was ons by Northumberland-Eiland en kon ek die eienste plek sien waar ons skipbreuk gely het en so amper ’n hele ruk moes oorbly.
Ek was op die dwarshoute op die uitkyk na walrusse en gewaar toe ’n paar seeleeus en twee wat moontlik walrusse kon wees. Toe ek begin koud kry, neem Bob Peary my plek in. Kort daarna het ons die skip aangehou weens die mis, en omtrent algar het ingekruip om te slaap, want met die voortdurende sonskyn, lyk dit, kon ons nie genoeg tyd kry om te slaap nie.
Ek was onder in die hoofkajuit toe mnr. Nielsen inkom en aan Carl, wat Deens praat, sê dat daar ’n dooie wit walvis in die nabyheid was. Ek gaan toe na Pa en vertel hom daarvan. Binne ’n paar minute was daar ’n boot in die water en was hulle op pad om hom te kry. Toe hulle die drywende liggaam bereik, skreeu hulle dat dit ’n wyfies-narwal was en nie ’n wit walvis nie.
Hulle sleep haar toe aan en ons sit twee of drie takels aan haar en begin haar op te hys. Sy was omtrent vyftien voet lank en het heel moontlik oor ’n ton geweeg. Sy was al ’n hele ruk dood en het taamlik sleg geruik, dus het ons besluit om haar oop te sny, terwyl sy langs die skip hang, en die binnegoed uit te haal en ’n klompie van haar spek af te sny. Die binnenste vleis was nog goed en bruikbaar.
Ons het ’n roeiboot langs die skip vasgemaak en Harry Raven en Fred het daarin geklim en die ding stukkend gesny met hulle oliejasse aan, want dit was ’n morsige werk. In die narwal het Harry ’n kleintjie gevind. Hy was ook nie te klein nie, maar was vyf voet sewe duim lank. Hulle het hom sorgvuldig gebalsem, d.w.s. Harry het ’n soort vloeistof in sy are gepomp wat verhinder dat die vleis sal sleg word. Hy moet na die Museum geneem word presies nes hy is. Ek dink ’n kleintjie van ’n narwal is ’n skaars eksemplaar, en ons hoop algar ons sal hierdie een in ’n goeie toestand kan aflewer.
HOOFSTUK X
ONS ESKIMO-KUNSTENAAR
Karna is ’n Eskimo-nedersetting aan Walvis-Sond, ten noorde van Thule en regoor Northumberland-Eiland, waar ons skipbreuk gely het. Die vorige keer kon ons weens die ys nie daar kom nie. Die slag het ons reguit soontoe gegaan om jagters te kry, daar die omstreke van Walvis-Sond uitstekend was vir walrusse en narwalle. Onmiddellik noord daarvandaan word ook wit walvisse gevang.
Toe ons omtrent drie myl van Karna was, kom daar ’n kajak na die skip toe. ’n Man klim uit en lag van oor tot oor toe hy vir Rasmussen gewaar. Dit blyk toe dat hy Olsen, die sendeling van Karna en ’n ou vriend van Rasmussen, was. Toe hy die maste gewaar, het hy gekom om ons te ontmoet. Ons skip was natuurlik daardie jaar die enigste een.
Hy het ons die vaarweg na Karna gewys waar ons ’n goeie diepte van water vir die skip gekry het.
Teen dat ons die anker laat sak het was daar ’n dosyn of meer mans aan boord. Rasmussen en Pa was spoedig aan land en het jagters gehuur om narwalle te jag. Kort na ons aankoms het die narwalle op ’n streep voor die dorpie in die sond op- en afgeswem. Verskillende male het ons ’n man in ’n kajak so-te-sê bo-op een gesien, klaar om die harpoen te gooi, maar elke slag gebeur daar iets en hy kry hom nie. ’n Ander weer het sy harpoen in ’n narwal gegooi, maar hom sê dat sy tou gebreek het.
Skynbaar spring ’n narwal omtrent net soos ’n seevark. Hy is baie mooi met ’n gespikkelde vel soos blou seep met wit en loodkleurige kolle. Die mannetjie het ’n groot slagtand wat aan die linkerkant van sy kop reg na voor uitsteek. Dit is ivoor en het ’n spiraalvormige oppervlakte (soos die horing van ’n springbok). Die grootste slagtand wat ek gesien het is tien voet lank. Hulle is „eenhorings van die see” genoem. Die grootste narwal wat ons gekry het, was vyftien voet lank. Waarskynlik haal hulle ’n lengte van twintig voet.
Die grootste deel van die nag het ons in Karna deurgebring deur besoeke af te lê en na narwal-skedels te soek, terwyl die jagters besig was. Die afspraak was dat Rasmussen saam met Bob Peary in die groot platboom-skuit met die Johnson-motor die fjord sou opvaar en probeer om ’n paar narwalle te kry.
Later het ek gehoor dat twee jagters hulle narwal in die nabyheid gekry het net nadat Pa om halfvier ingekruip het. Toe ek in die oggend op dek kom, lê daar ’n pragtige groot narwal met ’n slagtand. Hy was vyftien voet lank sonder die slagtand wat omtrent sewe tot ag voet was. Later het hulle ’n klein wyfie gebring wat omtrent nege voet was.
Fred en Harry was heeldag besig met die narwalle. Daar hulle so swaar was, moes ons twee van die voorste takels van die slagseil gebruik om hulle op die skip te hys. Fred het met gips afgietsels van die koppe, sterte en vinne gemaak. Daar is van al die kante portrette van hulle geneem, die mate geneem en stroke van hulle velle afgesny, sodat hulle in die museum ’n natuurgetroue model van ’n narwal sou kon opbou. Toe hierdie werk klaar was, het ons begin om die vleis van die bene af te haal. Die meeste van ons het gomelastiek-stewels aangehad, sodat dit nie iets sou saak maak as ons in die bloed trap nie. Maar die Eskimo’s het niks omgegee nie. Hulle kry natuurlik die vleis vir hulle gebruik. Terwyl ons gesukkel het en twee of drie keer moes sny, het die Eskimo’s baie vinnig en handig te werk gegaan, daar hulle al dikwels die soort werk gedoen het. Na ’n paar uur was die geraamtes heeltemal sonder vleis.
Van Karna het ons ses jagters met hulle kajaks saamgevat om ons te help om walrusse te kry. Vier van hulle was vroeër saam met Peary; hulle name was Etoekasjoek, Poead-loena, Koedloektoe en Kesingwa. Laasgenoemde was een van die Eskimo’s wat saam met kapt. Bob teruggekom het van 87 graad 47 noorderbreedte, net ’n kort end duskant die Noordpool, toe hy in 1909 saamgegaan het met Peary wat self verder gegaan het tot by die Pool.
Hulle is algar mooi manne, en alhoewel hulle maar min Engels kan praat, tog vat hulle ’n ding gou en is hulle baie gaaf om by te kom.
Daar is twee gawe seuns. Die een is Poead-loena se seun Matak. Die ander een is Nils wat sestien is. Hy het baie ligte hare—omtrent soos myne—en blou oë. Hy kom van Suid-Groenland, en ek dink sy pa is ’n Deen. Hy is baie handig in ’n kajak en is algemeen goedgeboud. Al is hy drie jaar ouer as ek, kom hy tog nouliks tot aan my skouer. Hierdie mense is natuurlik algar baie klein. Baie min van die mans is langer as vyf voet vyf, maar hulle is so sterk gebou soos osse met kort bene en dik lywe net ’n bietjie vet, dog hard. Dié seun Nils het al op sy eie seehonde en narwalle doodgemaak.
Ons het ook ’n gawe Eskimo aan boord geneem met die naam van Kakoetia wat meer of min beteken „die een met die sagte stem.” Hy is ’n knap tekenaar en maak graag tekeninge van die wapens wat hulle gebruik en van diere en ander dinge.