Part 4
Die plek waar ons skip die agtermiddag gelê het was net lang ’n groot klomp baai-ys, ysskolle met water tussenin. In die verte kon ons hier en daar seehonde sien. Hulle sit in die son en bak, maar gewoonlik digby ’n gat in die ys. Sodra hulle skrikgemaak word, seil hulle af en verdwyn. Selfs as ’n mens hulle skiet, tensy hulle onmiddellik dood is, plof hulle nog in die water en sink.
Dan en een van die Eskimo’s het probeer om die seehonde—of „poeiesie”, soos die Eskimo’s hulle noem—te bekruip. Hy was taamlik gelukkig en het drie raakgeskiet, twee waarvan hulle gekry het. Hulle het ook taamlik nat geword, terwyl hulle so oor die ys kruip en deur dammetjies water wat deur die son gesmelt is. In alle geval was dit ons eerste buit en die vleis was ook lekker.
Voor die volgende oggend het ons noordwaarts gegaan na Parker-Sinow-Baai. Toe ek wakker word, lê ons daar geanker. Dit is ’n mooi plek, ’n klein baai heeltemal op die kus met ’n stukkie gelyk grond en daar agter kom ’n gletser af wat tot by die groot gletserveld uitstrek. Aan weerskante van die gletser staan twee steil berge en een van hulle het ons Bartlett-Kop genoem. Een van die berge het aan die seekant kranse wat steil uit die see oprys. En daar is ’n groot voël-kolonie.
Op die kus het ons ’n blou vos gesien. Na môre-ete het ons die voël-kolonie aangepak om eksemplare te kry. Dit was ’n heerlike, sonnige en stil dag en ons het regtig ’n aangename tyd gehad. Party van ons is tot die agtermiddag besig gewees en het die boot teruggestuur om ons middagete te haal.
Ons het teen ’n krans uitgeklim. Om dit reg te kry moet ons die maklikste kant van ’n steil puntjie uitkies. Van die krans af kon ons ’n paar van die neste bereik. Ons kon selfs aan party van die voëls raak, aan auks en seemeeue. Hulle het op hulle neste gesit en broei, en party op baie klein kuikentjies. (Toe ons drie weke later terugkom, was daar baie meer kuikentjies.)
Op hierdie plek het ek ’n ligte lyn gebruik en heel party voëls daarmee gevang. Ek het aan die een ent ’n lissie gemaak en die oor die kant van die krans laat afsak, totdat dit op een van die neste lê. As die voël dan terugkom en reg daarop gaan sit, gee ek ’n skielike ruk. Dit het heeltemal goed gewerk.
Bob Peary, wat baie goed kan klim, het ’n tou om sy lyf vasgemaak, en toe het ons hom laat afsak om eiers en neste te kry. Art Young en Carl was die „ankers” aan die ander ent van die tou. Een slag terwyl hy afgaan, het Bob op ’n los klip getrap en dit afgestamp. Die klip het in sy val ’n groot klom ander klippe losgeruk en die hele spul het met ’n geweldige geraas en gespat in die water geval.
Die krans was van bo tot onder omtrent loodreg, met net ’n lys wat omtrent twintig voet bokant die water uitgestaan het. Na ’n ruk het Bob tot daar afgegaan waar hy kon staan, en toe het ons Pa ook soontoe laat afsak met ’n klein kamera waarmee hy lewende beelde kon maak. Later het die boot soontoe omgegaan, en die manne wat daarin was het die tou styf vasgehou, terwyl die manne bo dieselfde gedoen het, en so het eers Pa en na hom Bob langs die tou afgeseil, nadat hulle eers ’n emmer met eiers en ’n kissie met neste laat afsak het en ook ’n klompie kuikens wat hulle daar gekry het.
HOOFSTUK VII
SKIPBREUK
Maandag die ses-en-twintigste Julie het ons teen ’n verborge rots geseil naby Northumberland-Eiland wat aan die mond van Walvis-Sond op 77 graad twintig noorderbreedte lê, aan die oostekant van Baffin-Baai. Ons was besig om rondom die eiland te seil om ’n paar Eskimo’s te soek wat saam aan boord sou kom om ons te help jag. Ons was nou in goeie jagveld. Die aand vantevore het ons van die skip af sewentien walrusse gesien.
Kapt. Bob het al by Kaap-York verneem dat seker Eskimo’s op seker plekke sou wees waar hulle gewoonlik woon; maar toe ons daar kom, was hulle toepiks verlate. Die nasie trek baie rond na die beste plekke om te jag, en hulle het seker onverwags getrek, omdat die fjords en baaie vanjaar besonder vroeg vry van ys was.
Ons was in alle geval taamlik naby genoeg om vier sooi-huise op ’n seker punt te ondersoek. ’n Groot-kliprif het van die berg uitgeloop na die see se kant. Dit is wat die aardkundiges op Engels ’n „dyke” noem, ’n harde kliprif waarvan die sagter gedeelte aan weerskante weggevreet is deur die reën en sneeu.
Wel, die „rif” het blykbaar onder die water taamlik ver uitgesteek. Naderhand het ons uitgevind dat daar aan altwee kante diep water was tot amper teenaan. Maar ons het net die buitekantste knoppie gevang omtrent tien voet onder die oppervlakte van die water.
Dit was omtrent half-een in die oggend toe ons teen die rif vasgeloop het. Dit was natuurlik dag en die son het helder geskyn, en gelukkig was daar g’n wind nie, en die see was kalm. Dit was verskriklik opwindend. Die skok het my amper uit my kooi gegooi. Ons het ’n gekraak gehoor en ’n stamp gevoel, en daarna was alles stil. Ons het dikwels vantevore teen ligte ysblokke geseil wat die skip ’n bietjie laat dril het, maar dit was niks vergeleke met hierdie nie.
Ek het so gou as wat ek kon my broek aangetrek en was net besig om my kouse aan te trek, toe Pa deur die bolig skreeu dat algar op dek moes kom en maar moes laat staan om aan te trek. Ek het vir Bob Peary en Dok wakkergemaak en ons is toe gou boontoe.
Ons was ’n halfuur besig om die olievate van agter na die boeg te verskuif om die agterstewe ligter te maak, want daar het die rif die skip geraak en daar het hy vasgesit. Dit was net hoogwater toe ons die stamp gekry het. Ons het die fokseil, en die binne- en buitekluiwer opgehys en die motor volstoom laat loop, maar die skip het nie geroer nie. Toe, terwyl die see sak, bring ons in die platboom-skuite ’n groot klomp goed aan wal en doen wat ons kan om gereed te wees vir die volgende gety.
Die Morrissey het vyf-en-veertig graad of meer na bakboord oorgehel en aan boord was alles in ’n verskriklike wanorde! ’n Mens kon eenvoudig nie op die droë dek staan nie, en waar dit glibberig was van die olie—en dit was amper orals die geval—was dit net moontlik om weg te kom deur aan ’n tou vas te klou. En boonop het hulle verskillende male lelik geval met die verskuiwing van die olievate. Kapt. Bob het sy hand lelik gesny en Dok het dit daar en dan verbind. Onder in die kajuite was alles onderstebo. Dit het te gek gelyk om die klere wat aan hakies in die plafon gehang het van die mure te sien skuins wegstaan soos dronk mense.
Die water het gesak en die skip hoog en droog op die rots agtergelaat, behalve die boeg wat nog skeef in die water gehang het. Kapt. Bob het aan elke kant van die agterstewe tien leë olievate vasgemaak om die skip te help oplig as die water weer hoogkom.
Ons moes eenvoudig klaar wees vir enigiets, ingeval dit sou blyk dat die Morrissey so erg beskadig was dat hy nie bo water kon bly nie, of veral as ’n storm sou opkom, wat die skip sou uitmekaar breek en dit baie moeilik of miskien onmoontlik maak om enigiets te red. En julle moenie vergeet dat ons byna duisend myl van die naaste Deense nedersetting was en meer as 2000 myl van Sydney, die naaste groot plek nie.
Een ding wat ons dadelik baie versigtig aan land gebring het, was die klein draadlose toestel waarmee ons draadlose telegrafis, Ed Manley, met die wêreld in verbinding kon tree ingeval ons groot toestel aan boord verlore sou gaan. Dié klein toestel wat vir ons so uiters belangrik kon gewees het, is deur die Nasionale Karbou-Maatskappy wat die „Eveready”-batterye maak, aan ons present gegee.
En toe, in die middag, kom die hoogwater, en ons was bitterlik teleurgesteld. Want die see was meer as drie voet laer as toe ons die ongeluk gekry het. Daar was dus g’n hoop dat ons voor die volgende hooggety sou kon loskom nie. Dit was ’n kwaai saak, want die oorhel en die gemaal is verskriklik skadelik vir ’n skip, en sou sekerlik ’n swakker skip vernietig het. Maar die Morrissey is van eikehout en is besonder sterk.
Die see was darem hoog genoeg om oor die laagliggende deel aan bakboord te spoel, al kon dit die skip nie oplig nie. Daar het ’n lelike lekplek in die sy van die skip ontstaan en die water het so vinnig ingeloop dat ons algar moes help om die water uit te skep met emmers wat aan ’n tou deur die bolig moes neergelaat word in die middelste kajuit. Die pompe was onbruikbaar, want deur die skuins ligging van die skip kon hulle die water nie bereik nie.
My kooi en twee ander was gevul met ’n mengsel van water en olie en my goed, veral die in die kas daaronder is baie beskadig. Gelukkig het iemand my kooigoed uitgehaal.
Die vuur in die stoof van die kombuis en van die agterste kajuit moes doodgemaak word, want daar was gevaar dat dit sou uitval en die skip aan brand steek. Die groot stoof in die kajuit was met kramme vasgemaak, sodat dit nie kon skuif nie. Billy, die kok, het aan land gegaan en aanhoudend koffie gemaak, dus kon die mans gedurig iets warms kry om hulle aan die gang te hou. Eer alles verby was, het amper algar vir meer as veertig uur aaneen gewerk, Ek was meer as vyf-en-twintig uur besig en was toe omtrent doodmoeg.
Die kaptein het orders gegee om al die kos aan land te bring. Daar was ook baie meer om te doen: Ons moes meer vate aan die skip vasmaak, die vrag regpak, petroleum aan land bring vir die motorboot, ingeval ons vasbrand, en lampolie vir die priemus-stowe. Dan het hulle ook nog die groot swaar anker in die platboom-skuite ’n hele end van die skip af weggevat en dit daar in die see laat sak, sodat ons met die windas daaraan kon trek.
Terwyl die water laag was, het ons baie werk gehad aan die beskadigde boom van die skip. Die vals kiel, ’n groot hout-affêre heeltemal onderkant die eintlike kiel, was agter die grootmas so-te-sê afgeskeur, en ’n hele klomp toupluksel was losgeruk uit die voeg van die kuilgang. Ons het op die nat rotse gaan lê en ’n klomp toupluksel, ’n soort vesal soos uitgerafelde sakgoed—of sal ons sê goiïngsak?—ingesit met kalfater-gereedskap wat bestaan uit ’n soort van stomp bytel en ’n houthamer (of ook ’n gewone hamer) om die goed in die voeë of barste vas te stamp.
Toe het ons ’n klomp van Billy se smeerseep gevat wat hy vir die skottels gebruik en dit met ’n hamer bewerk en met die hande tot ’n deegagtige massa gebrei. Dit het ons oor die toupluksel gesmeer. Ons het in die water gewerk totdat die see te hoog gerys het, en toe het ons met ’n leer aan boord geklim. Ek kon ook baie help by hierdie werk. Daarna was ons baie besig met water uitskep.
Aan land het ons een van ons klein tente opgeslaan en die meeste van ons goed, soos slaapsakke, komberse, geweers en ammuniesie daarin gesit. Elkeen het so goed soos hy kon, sy goed bymekaargeskraap om dit aan land te bring. Dit was baie opwindend, presies asof ons die skip vergoed wou verlaat. Dit was ook baie treurig om ons pragtige Morrissey so te sien, deurtrek van die water en olie, en alles so verskriklik omgekrap.
Na die aflaai van die goed, en nadat die manskappe elkeen ’n beker koffie en klinkers geniet het en wat Billy verder in die blikke kon kry, was dit so amper al weer hoogwater, so teen elf uur in die nag. Die son was natuurlik die hele tyd ewe hoog bokant die gesigseinder, net in ’n ander rigting, sodat dit altyd gelyk het of dit helder in die agtermiddag was. Ons was vreeslik gelukkig om g’n stormagtige weer te hê nie.
Almal is aan boord geroep en drie manne het gepomp, terwyl die ander die windas gedraai het. Ons het die groot anker en ’n kleintjie in die see gehad om met die windas daaraan te trek.
’n Taamlike wind het opgekom en ons moes die skip daar en dan van die rif afkry, anders sou dit sekerlik vergaan, en ons sou daar gestrand wees. Nadat ons omtrent ’n uur gewerk het, was ons net op die punt om moed op te gee, toe die wind sterker begin waai. Kapt. Bob het nou orders gegee om al die seile te span. Elkeen klim in die maste en trek vir al wat hy werd was. Die wind swel die seile, en die motor beur volstoom vorentoe. Maar die skip bly sit, en ons was net moedeloos.
Toe kom daar meteens ’n besonder groot golf en ’n windvlaag, en skielik kreun die skip en gly van die rif af. Vyf-en-twintig uur daarna was ons heeltemal los. Maar was ons nie bly nie!
Pa, Carl en ek het aan land gegaan om die goed reg te pak in geval dit sou reën, terwyl hulle met die skip lywaarts [5] omgeseil het, waar hulle beter daarvoor kon sorg en uitvind hoe sake staan. Die skip het skynbaar baie gelek, en hulle was van plan om hom op die strand te bring as die water die pompe baasraak.
Ons het dadelik ingekruip, ek meen omtrent halfdrie. En toe ons wakker word, was dit twee-uur in die agtermiddag! Dit is te begrype dat ons baie moeg gewees het. Buitendien is Carl baie siek gewees en het dit net moeilik gevind om aan die gang te bly.
Die Morrissey was verdwyn. Ons het natuurlik nie die minste idee gehad waar hy was nie, maar al wat ons kon doen was om te wag en alles so goed as moontlik in orde te bring. Die volgende dag, in die mis, het Carl en Pa met die motorboot uitgegaan om te sien of hulle die ander klomp kon vind, maar hulle het die skip nie gekry nie.
Ons het toe maar ’n soort van huis gebou, die komieklikste huis wat mens jou kan voorstel. Robinson Crusoe het selfs nooit ’n snaakser een gesien nie. Dit het drie mure gehad, algar hoofsaaklik van kos gemaak, met ’n groot seil daaroor getrek as ’n dak en ’n paar geteerde bokseile om te help. Die sterkste muur, aan die kant van waar die wind gewaai het, was gebouw van sakke meel op kiste met ingelegde groente. In daardie mure was sakke ertappels, kratte vol uie, vate, sakke met pakhout [6], hamme en spek. Ons het in elk geval gevoel dat ons genoeg kos gehad het. Ons was besonder bly dat ons ’n hele klomp „pemmican” [7], spesiaal deur Armour gemaak, gehad het wat Pa se vriend Herman Nichols vir ons gegee het.
Ons het twee groot beervelle gehad, en die saam met ’n geteerde bokseil, het ons op die klam grond gelê as vloer. Met ’n priemusstoof wat lampolie brand, het ons heeltemal tuis gevoel, al het die wind die seile amper van die dak afgewaai. Ons het groot klippe daarop gepak en ’n paar swaar hamme wat ons van mnr. Swift gekry het met toue aan die kante van die seile vasgebind.
Ek het heeltemal siek geword en moes amper die hele tyd wat ons in „skipbreuk-kamp” deur gebring het, in my slaapsak bly. Dit was deksels koud sonder ’n vuur om huis te verwarm, maar ons het darem eersteklas gevorder. Pa het ons verseker dat die draadlose boodskap dat ons skip van die rif af was, teen die tyd al ontvang was. Ongelukkig het die water ons draadlose toestel belemmer toe die ongeluk plaasgevind het. Ed Manley het ’n paar dae nodig gehad om dit weer in orde te bring.
Teen die middag van die derde dag, terwyl hy besig was om tee te maak op die priemusstofie, kyk hy by die deur van ons hut uit en gewaar ver weg teen die berg vier Eskimo’s wat na ons toe kom. Toe hulle nader kom, kon ons sien dat hulle algar groot pakke dra.
Toe hulle by die hut kom, sit die man ’n babetjie wat hy geabba het neer. Die moeder het ’n sak met leë blikke op haar rug gedra, wat ons kon sien, het van die Morrissey gekom. Met die paar woorde wat ons kon verstaan en baie tekens en gelag—hulle is altyd baie goedgehumeurd en gaaf—vertel ons vriende ons dat hulle op die skip gewees het en gehelp het om te pomp. Hy was aan die ander kant van die eiland geanker. Skynbaar was hy net ’n paar myl van ons af.
Nadat ons hulle kos gegee het, hoofsaaklik ’n groot bak vol ertjies waarvan hulle baie hou, het Carl en Pa vertrek om die skip te soek, terwyl hulle my agtergelaat het om te slaap. Ek het vergeet om te sê dat ons vir die Eskimo’s ’n bietjie ham gegee het wat lekker gelyk het, en wat hulle te kenne gegee het dat hulle graag sou proe. Maar hulle het net niks daarvan gehou nie, want dit was te sout. Hulle gebruik mos nooit sout by hulle vleis nie en kan nie verstaan hoe ons daarvan kan hou nie. „Naggha pioek” het hulle met ’n snaakse gesig gesê. Dit beteken „nie lekker nie.”
Omtrent middernag, sowat agt uur later hoor ek ’n skreeu. Ek skrik wakker en sien die Morrissey in die baai, anderkant die plek waar hy gestrand het. Pa en Carl was aan boord. Daar die wind bedaar het, het hulle omgeseil om die goed te kom haal.
Hulle het my aan boord gestuur en Dok het my georder om onmiddellik na bed te gaan en my so warm as moontlik te hou. Daar my kooi nog klam was waar die water ingeloop het, het ek in Pa se kooi geklim in die agterste kajuit waar ’n vuurtjie gebrand het.
Toe ek wakker word, was ons op pad na die suide. Die plan was om terug te gaan na Upernivik en daar die skip op die strand te bring om dit te herstel. Met soveel mense aan boord het kapt. Bob en Pa gereken dat dit beter sou wees om nie te waag om die skip aan die noordekant van Melville-Baai te probeer regmaak nie, want dit is dikwels ’n moeilike baai om oor te steek.
As die Morrissey met hoogwater op die rif gevaar het, dan sou dit goed gegaan het. Hier strand dikwels skepe deur die honderde van rotse en riwwe wat nie op die kaarte aangegee word nie, en deur die onvolledige inligting waaroor die seevaarders beskik. Maar sulke dinge gebeur natuurlik altyd op die verkeerde tyd. Dit was pure ongeluk. Toe die wind opkom, was dit met ons ’n kwessie van vergaan of loskom.
Hierdie het ek in die agterste kajuit geskryf terwyl ons oor Melville-Baai geseil het op pad na Upernivik. Die skip was in ’n verskriklike toestand, maar alles in nou weer taamlik agtermekaar. En elkeen het sy slaap omtrent weer ingehaal.
Rondom my kooi en mnr. Kellerman syne is die planke ingeduik. Dit kom van die verskriklike drukking op die raamwerk en balke toe die skip op sy sy gelê het, wat gemaak het dat die ligte binnenste raamwerk van die kooie gekraak het as die skip net effentjies geroer of meegegee het.
Pa vra my nou net of ek graag weer ’n reis na die noorde sou onderneem. Ek het natuurlik ja gesê. My eintlike antwoord was: „Met kapt. Bob sou ek na enige plek graag saamgaan.”
HOOFSTUK VIII
DIE MORRISSEY HERSTEL
Dinsdag die derde Augustus het ons weer in Upernivik aangekom met Melville-Baai veilig agter die rug. Ons het goed geweet dat ons reis daar en dan sou ophou, daar ons die lekplekke in die Morrissey nie kon regmaak nie. Op die terugreis het elke minuut omtrent tien gellings water ingeloop. Dit op sigself was nie erg nie, maar daar was gevaar dat dit enige oomblik erger kon word, veral as die skip ooreis sou word of in botsing kom met ys of iets anders.
Toe ons inseil was ek aan die beurt om te pomp. As die motor slaan, moes ons amper aanhoudend pomp, want deur ’n toestel wat Robert Peary uitgedink het, gebruik die motor in sy verkoelingsinrigting baie water uit die skeepsruim, en dit het die pompery baie verminder.
Ons het dadelik ’n paar Eskimo’s aan boord laat kom om te pomp. Kapt. Bob het aan land gegaan om uit te vind hoe diep die water was en hoe skuins die kus, om te sien of ons die Morrissey op die strand kon bring. Later in die agtermiddag het die Goewerneur en sy assistente ons vertel dat daar omtrent tien Engelse myle (die Deense myl is omtrent vier van ons s’n) van Upernivik ’n fjord was waar dit maklik sou wees om die skip op die strand te bring. Hulle het die plek self gebruik om onder aan hulle skepe te werk.
Ons het onmiddellik vertrek en dit het ons twee-en-’n-half-uur geneem om daar te kom. Op weg soontoe het ons deur ’n soort van natuurlike poort in die rotse wat omtrent so wyd soos die lengte van die skip was, geseil. Dit was baie, baie diep, want aan weerskante was daar ’n berg met steil kranse wat waarskynlik baie vame onder die water eindig.
Hulle het die skip geanker en vir ’n hoë gety gewag, terwyl kapt. Bob voorbereidsels gemaak het om hom uit die water te kry, sodat hulle aan die boom kon werk. Ongelukkig was die skade heeltemal onder aan die kiel, dus was dit nutteloos om die skip maar net oor te kantel op sy sy. Pa het in Upernivik reëlings getref om ’n dosyn Groenlanders saam te vat wat kon help by die moeilike werk, soos die verskuiwing van die ballas. Ons het ook die goewerneur se smid en ’n klompie van sy gereedskap geleen.
Die volgende dag het ’n paar van ons die goewerneur in ons motorboot teruggebring na Upernivik. Dr. Heinbecker en ek het daar gebly en ’n besoek gebring aan dr. Rasmussen, die vroulike dokter wat daar woon en al die klein nedersettings in die rondte besoek. Sy maak die ritte in haar eie klein motorboot, vergesel deur ’n paar Eskimo’s wat dit vir haar dryf. Sy is Deens en is baie gaaf. Sy is baie groot en sterk en wonderlike verhale word van haar vertel, hoe sy in die winter haar span honde dryf, en selfs mans wat probeer om by te hou, word uitgeput. Die hele tyd wat ons in Upernivik deurgebring het, het sy ons in haar klein hospitaal in lekker beddens laat slaap, en ons in alle opsigte uitstekend behandel. Gedurende ons besoek daar het ons allerhande interessante kos gekry, soos die vleis van seehonde, auks en eende en eendeëiers.